STILBAAI NUUS - Die o.13 rugby- en netbalspelers van Laerskool Jacobsdal het Stilbaai aangedoen op hulle kort jaarlikse toer deur die Tuinroete.
Na wedstryde in Mosselbaai op Maandag 23 Maart het hulle Dinsdag teen Bertie Barnard gespeel voordat hulle die toer afsluit met wedstryde in George.
Berties se netbalspelers het op al hulle silinders gevuur en die bal lustig rondgegooi om hulle wedstryd met 16 doele teenoor 4 te wen.
Dit voorspel niks goeds vir hulle teenstanders aanstaande week by die Kobus Wiese-sporttoernooi nie. Die meisies is gefokus en speel goed as 'n eenheid saam.
Die rugbyspan het weliswaar gewen en dit het nooit gelyk asof hulle in die moeilikheid is nie, maar die skeisdsregter, Attie September, se skril fluitjie het hulle gereeld vir 'n strafskop teruggeroep. Beslis iets waaraan hulle moet werk voordat hulle Vrydag vir die Kobus Wiese-sporttoernooi Paarl toe vertrek.
Berties wen die wedstryd met 14 - 10 nadat buitesenter, Migael van Zyl en voorry, Zander de Jager, elk 'n drie gedruk het. Van Zyl het ook geslaag met twee doelskoppe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’