STILBAAI NUUS - Pikkewouter se jaarlikse potjiekoskompetisie het Saterdag, 25 April, die beste uit Stilbaai se vuur-en-vlam-sjefs na vore gebring.
Twintig spanne het vanjaar meegeding om as die Pikkewouter-potjiekoskampioene gekroon te word, en soos altyd het hulle nie teleurgestel nie.
Met perfekte weerstoestande het die spanne reeds voroegoggend begin om hul staanplekke rondom die gemeenskapsaal voor te berei.
Anders as 'n gewone braai, verg potjiekos 'n besondere kombinasie van vaardigheid, geduld en fyn beplanning. Vir weke word resepte noukeurig beplan en slegs die beste bestanddele gekies. Geheime, beproefde resepte word tot op die letter gevolg, terwyl die beheer van die vuur van kardinale belang is - net die regte hoeveelheid kole verseker dat die pot stadig prut sonder om die kos te verbrand.
Die beoordelaars, Dave Kairuz van Dave's Kitchen, Michelle Swanepoel van Trends in Riversdal en Tea Wols van Uniik in Stilbaai, het die moeilike taak gehad om die wenners aan te wys.
Die 2026-kampioene is Pierre Donaldson en Deon Kuhrau van die Autotech-span.
In die tweede plek was dit die pa-en-seun-duo, Danie en Niklaas Cronjé, terwyl Marco en Wilmie Scheffer, met die hulp van Willie Visagie, derde geëindig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’