STILBAAI NUUS - Die graad sewe-leerders van Laerskool Bertie Barnard se jaarlikse entrepreneursdag het Donderdag 28 Mei plaasgevind as deel van hul kurrikulum.
Die leerders het baie moeite met hulle stalletjies gedoen en daar was 'n groot verskeidenheid eetgoed en speletjies om van te kies.
Saam met die entrepreneursdag het die gewilde kaskarresies tussen die verskillende grade ook plaasgevind. Elke leerder het die geleentheid gekry om agter die stuur in te skuif, terwyl twee spanmaats die kaskar so vinnig moontlik om die baan gestoot het.
Op die baan is die "renjaers" en die "skilpaaie" gou van mekaar geskei.
Die graad R-klas moes natuurlik nog heelwat leiding ontvang, maar toe die graad sewe-leerders die stuurwiel oorneem, het dinge sommer rof gegaan.
Ter afsluiting van die dag het die onderwysers en ouers mekaar op die baan aangepak. 'n Paar mammas het behoorlik gewys dat daar dalk 'n bietjie Sarel van der Merwe in hulle skuil.
Die dag het ook as fondsinsameling gedien en gaan beslis help om die skool se boeke te laat klop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’