STILBAAI NUUS - Die visse tussen die hawe en Morrispunt moes behoorlik bontstaan toe 104 hengelaars van alle ouderdomme op hulle toesak.
Die geleentheid was Laerskool Bertie Barnard se visvangkompetisie wat Vrydagmiddag, 10 April, plaasgevind het.
Nadat die skoolhoof, Nicky Deetlefs, almal verwelkom het, het meer ervare hengelaars nog vinnig raad gegee voordat die manne en meisies met hul stokke en aas water toe is.
Heelwat deelnemers het hulself op die hawemuur tuisgemaak, waar daar gereeld 'n blaasoppie of soortgelyke vangs aan die hoek was.
Die res van die hengelaars het hulle op die rotse versprei, met onderwyseresse wat oral teenwoordig was om toe te sien dat alles vlot verloop en dat die kinders veilig bly.
Teen halfses Vrydagmiddag het 'n bakkievrag gelukstrekkings en pryse op die hengelaars gewag, waarna almal moeg maar tevrede huiswaarts gekeer het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’