STILBAAI NUUS - Die skool het 'n aand van musiek, dans en betowerende oomblikke beloof - en dit is presies wat hulle vermag het. Die Ruby Flores-skoolsaal was Vrydagaand stampvol en die gehoor was telkens met entoesiastiese optredes op hul voete.
Die gr. R-leerders het die aand afgeskop met Drome toe ons klein was – brandweer. Daarna het Hoop vir die toekoms, Pret in ons kinderdae, Eerste liefde, Vier die lewe – verjaardag en die gr. 7-leerders se Sportherinnering die eerste helfte van die program gevul.
Ná pouse het die gr. 6-leerders die tweede helfte afgeskop met Ons toer Kaap toe. Dit is gevolg deur Vriendskap, Moeilike herinnering – altyd hoop, Elkeen het sy eie storie en Terugkyk en vorentoe gaan.
Die opvoeders het ook hul deel bygedra en die gehoor vermaak deur te wys watter beroepe hulle sou volg indien hulle nie in die onderwys was nie.
Die aand is op ’n hoogtepunt afgesluit toe al die deelnemers saam op die verhoog verskyn het.
Die oorverdowende gejuig van die gehoor was ’n duidelike bewys van hul waardering vir die skool se harde werk. Elsa Cronjé en haar span kan met reg trots wees op ’n besonder suksesvolle produksie.
Die indrukwekkende verhoogversiering en die goed afgeronde optredes van elke graad, van die gr. R-klas tot die gr. 9-leerders, het getuig van baie ure se voorbereiding, harde werk en inoefening.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’