RIVERSDAL - Gerrit du Plessis Sekondêr se o. 19-meisieskaakspan het die skool en Riversdal met trots verteenwoordig deur 'n uitstekende tweede plek by die Wes-Kaap Topskole Skaaktoernooi te behaal.
Die toernooi is op 29 en 30 Augustus by Tafelberg Skool in Kaapstad aangebied, waar die Riversdal-span teen van die sterkste skoolspanne in die Wes-Kaap meegeding het.
Die meisies se tweede plek is 'n bewys van hul harde werk, toewyding, deursettingsvermoë en spanwerk. Hulle het deurgaans vasberadenheid getoon en hul skaakvaardighede op die hoogste vlak ten toon gestel.
Volgens die skool het die span nie net die naam van Gerrit du Plessis Sekondêr hoog gehou nie, maar ook as trotse ambassadeurs van Riversdal opgetree.
Die skool het die span gelukgewens met hul besondere prestasie en hul vermoë om op die hoogste vlak mee te ding.
"Julle het gewys dat geloof, vasberadenheid en harde werk groot hoogtes kan bereik," het die skool gesê.
Die tweede plek by die Wes-Kaap Topskole Skaaktoernooi is 'n prestasie waarop die spelers, hul afrigters, die skool en die Riversdal-gemeenskap met reg trots kan wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’