STILBAAI NUUS - Dit is vandag Dinsdag 16 Januarie die laaste dag wat die NSRI lewensredders sal diens doen op Hessequa se strande.
Dit is die einde van die seisoen en hulle sal nou 'n welverdiende ruskans kry.
Vir die afgelope maand vanaf 14 Desember was hulle elke dag getrou op hulle pos en net by Stilbaai se hoofstrand, Lappiesbaai, was daar meer as 50 reddingspogings.
Die ergste vir die twee lewensredders by Lappiesbaai was 'n massa reddingspoging toe tien mense gelyk in die moeilikheid was.
Een van die lewensredders, Joshua Swartz van Heidelberg, sê dat hulle net dankbaar is vir die deeglike opleiding wat hulle van die NSRI ontvang het.
Riptide was vir baie van die pogings verantwoordelik en dan ook swemmers wat te diep ingaan en nie teen die stroom kon terugkom strand toe nie.
Heelwat swemmers het gesê dat hulle al jare in Stilbaai swem, maar dan verstaan hulle nog steeds nie hoe die riptide jou insluk nie.
Die see is nie 'n swembad nie en baie mense is geneig om maar hulle eie kop te volg en nie te luister na die lewensredders nie.
Gelukkig was daar hierdie feestyd geen verdrinkings in Hessequa nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’