HESSEQUA NUUS - Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, het gister tydens 'n kort seremonie op Riversdal aangekondig dat Albertus (Albert) de Klerk as nuwe munisipale bestuurder by Hessequa-munisipaliteit aangestel is.
Hy sal met ingang 1 Julie dié pos by die waarnemende munisipale bestuurder, Hendrik Visser oorneem. Die raad het sy aanstelling op 28 April goedgekeur.
Die 53-jarige De Klerk het 30 jaar se uitgebreide kennis en ondervinding van plaaslike regering.
Nadat hy sy BCom-graad in finansiële rekeningkunde verwerf het, het hy eers ondervinding in die private sektor opgedoen voor hy in 1992 by die Zamdela-munisipaliteit as hoofklerk van finansies aangesluit het.
In 2001 is De Klerk as hoof finansiële beampte by die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng aangestel en in 2008 as munisipale bestuurder.
Onder sy sterk leierskap en gesonde finansiële bestuur het Midvaal sewe skoon oudits behaal en 'n toekenning vir beste lewenskwaliteit en mees finansieel volhoubare munisipaliteit in Gauteng ontvang.
In 2021 het hy die leisels as munisipale bestuurder by die Langeberg-munisipaliteit in Robertson oorgeneem.
Riddles het gesê hulle is verheug om een van die beste munisipale bestuurders in Suid-Afrika te kon aanstel.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'