GEORGE NUUS - Die nuwe DA-voorsitter in die Wes-Kaap, Jaco Londt, het geen illusies oor sy nuwe verantwoordelikhede nie. Hy besef daar wag 'n enorme taak op hom en die DA se nuwe topbestuur in die Wes-Kaap.
Die 35-jarige Londt, wat van die Tuinroete kom, is Saterdag 21 November tot die invloedryke pos verkies. Baie eenvoudig gestel moet hy nou saam met die topleierskap in die provinsie sorg dat die party optimaal funksioneer in die Wes-Kaap. Bonginkosi Madikizela is herkies as provinsiale leier.
Dit is algemeen bekend dat die DA voor groot uitdagings staan en aanstaande jaar sal die party in die Wes-Kaap hard moet veg om die stadsrade onder sy beheer te behou en te vermeerder.
Maandag, minder as 48 uur nadat Londt verkies is, was hy reeds in Kaapstad aan die werk. Daar is immers 'n munisipale verkiesing in 2021 wat wag.
Hy het Maandag gesê die politieke landskap en die gemoed van inwoners het die afgelope paar jaar verander. As gevolg van die swak bestuur in die land, is daar diep ongelukkigheid jeens die nasionale regering waar die ANC die septer swaai. Dikwels maak mense nie die onderskeid tussen die nasionale regering, die provinsiale regering en plaaslike regering nie.
Die DA is in beheer van Wes-Kaapse provinsiale regering en die meerderheid munisipaliteite in die provinsie.
Volgens hom stel die DA 'n hoë standaard waar hy in beheer is. "Dit moet egter nie ons maatstaf wees nie. Dit moet uitgebou word en hoër wees. Dit sluit in meer effektiewe kommunikasie van ons suksesse en vinniger omkeer en reaksie daar waar ons gefouteer het.
"Daar rus 'n verantwoordelikheid op die DA in die Wes-Kaap om die alternatiewe regering voor te hou vir die res van die land. Om dit reg te kry, wag daar ongelooflike harde werk. Ons moet die munisipaliteite onder ons beheer behou en die oorneem waar ons in opposisie sit."
Sy leierskapstyl is dat mens nie net op die kantlyn kan staan en kritiek lewer nie. "Rol moue op en raak betrokke om die verskil te bewerkstellig wat 'n mens verlang."
* Geordin Hill-Lewis, 'n kiesafdelingshoof van die DA vir George, is Saterdag tot een van die party se nuwe ondervoorsitters in die provinsie verkies.
Jaco Londt, nuwe DA-voorsitter in die Wes-Kaap.
Wie is Jaco Londt?
Jaco Londt is 'n baie ervare politikus en word as een van die DA se opkomende leiers beskou. Hy het in 2005 aktief by die politiek betrokke geraak. In 2014 was hy aan die stuur van die DA se provinsiale verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap. Die DA was suksesvol. In dieselfde jaar het hy 'n LP in die Nasionale raad van provinsies geword. Tot onlangs was hy voorsitter van die DA se oosstreek.
Hy het in 'n stadium in George ge-woon en is op die oomblik die DA se kiesafdelingshoof vir Mosselbaai.
Jaco Londt (35) is the new DA chairperson in the Western Cape, succeeding Anton Bredell who was not available for re-election. As a member of parliament and till recently the chairperson of the DA's East Region, he is regarded as one of the DA's young and upcoming leaders. Londt said a lot of hard work lies ahead.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'