POLITIEK NUUS - Die uitslag van aanstaande jaar se nasionale en provinsiale verkiesing is in die hande van die kiesers.
Dit is die boodskap van dr. Corné Mulder, die langs dienende parlementslid wat betrokke is by pogings om die opposisie partye te laat saamwerk. Mulder is reeds 35 jaar 'n parlementslid.
Mulder, Wes-Kaapse leier van die VF Plus, het verlede week die Tuinroete besoek en kort voor sy terugkeer na Kaapstad sy indrukke met George Herald gedeel oor hoe hy sake op die oomblik sien.
"Daar is hoop. Die ANC kan en moet by die stembus verslaan word. Ons kan nie 'n verdere vyf jaar met die huidige bestuur van die regering sit nie. Ons kry aanstaande jaar een geleentheid by die stembus om die situasie te verander.
"Die kiesers moet besef dis in hulle hande. Elke individu moet besef hy/sy is betrokke. Dit begin om as 'n kieser te registreer as jy dit nog nie gedoen het nie."
Volgens hom is vier fokusgroepe reeds geïdentifiseer.
Die eerste groep is die jongmense tussen 18 en 35. Dan is daar ook ouer mense, onder hulle is wit Afrikaners. Hulle het as't ware tou opgegooi en wil nie meer betrokke wees nie, want hulle dink dit gaan nie help nie. Dat dit nie 'n verskil gaan maak nie.
Dan is daar sowat 'n derde van die ANC-lede wat ontnugter is. In die vorige verkiesing het hulle die wegblystem verteenwoordig. Hulle is bereid om te stem, maar dan moet daar 'n werkbare alternatief wees.
Die laaste groep is die groot groep Suid-Afrikaners in die buiteland wat ook kan stem.
Volgens Mulder is dit die groepe wat 'n verskil kan maak om die ANC uit die stoel te lig.
Hy het benadruk dat mense in die Wes-Kaap nie 'n valse gerustheid moet hê omdat die ANC nie veel van 'n faktor in die provinsie is nie.
Mulder het erken dat dit nie maklik gaan wees om die ANC te verslaan nie. "Om die ANC te verwyder moet 'n beweging gevestig word. Dis soos die UDF van die verlede.
"Ons kort 'n nuwe UDF wat bestaan uit byvoorbeeld die kerk, akademici en die burgerlike samelewing. Elkeen moet besef dat hy/sy 'n verskil kan maak."
Mulder het gesê dit gaan nie oor die spesifieke bevordering van partypolitieke belange nie. "Daar is ruimte vir elke politieke party."
Dr. Corné Mulder verlede week by George-lughawe. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’