Graham van Heerden het buite die huis op ‘n kleinhoewe gespeel en die aansteker verlede Woensdag tussen lang gras ontdek.
“Hy het met die aansteker begin speel en sy mou het vlam gevat en die res van die hemp aan die brand gesteek. Sy ouers het hom dadelik na ’n nabygeleë kliniek gehaas,” sê Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation.
‘n Verpleegster by die kliniek het glo slegs ’n oliemiddel en salf op die wonde gesit en Graham met stroopmiddel vir die pyn en ligte antibiotika huistoe gestuur.
Intussen het die ouers Graham weer by die kliniek gehad vir verdere mediese behandeling. Teen Sondag het die wonde ontsteking opgedoen.
Die foundation, ’n nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers, en die SA Family Relief Project het van Graham se verhaal te hore gekom en besluit om in te spring en hom te help.
Graham woon sedert die begin van Maart op die kleinhoewe saam met sy vyfjarige sussie, Robyn en sy ouers, Jolandi van Heerden en Derick Roos.
“Derick se werkskollegas het donasies ingesamel en hom na ’n plaaslike dokter vir behandeling gestuur,” sê Du Plooy.