MOSSELBAAI NUUS - Trevor Davis, ‘n lid van die uitvoerende bestuur van Rolbal SA, het na wat verneem word, gister laatmiddag sy vrou, Elma, ‘n Protea-rolbalspeler, by hul woonkompleks op Mosselbaai doodgeskiet voor hy die vuurwapen op homself gerig het.
Die egpaar, beide in hul 50’s, is op die toneel dood verklaar.
Die voorval het by Fijnboschpark in 17de Laan gebeur.
Die Davis-egpaar is bekend in sportkringe en is verlede jaar tydends ‘n geleentheid wat deur Eden-rolbalklub aangebied is, vereer.
Trevor was lid van verskeie komitees van Wêreld Rolbal en ‘n voormalige president van Eden-rolbal.
Die Davis-egpaar het met verskeie prestasies in die sportwêreld gespog en Elma het Suid-Afrika by onder meer die Statebondspele verteenwoordig.
Die Mosselbaai-polisie, die buurtwag asook die brandweer is gister kort na die voorval na die woonkompleks ontbied.
Die tipe vuurwapen wat gebruik is kan nog nie bevestig word nie.
Artikel: Mossel Bay Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'