MOTOR NUUS - Volgehoue politieke onsekerheid tydens die opvolgstryd en gepaardgaande onsekerheid oor die rentekoers het daartoe gelei dat Oktober vanjaar se verkope wisselvallig was.
Passasiersmotorverkope het bestendig gestyg en die totaal van 35 316 was 2 593 eenhede meer as in Oktober 2016. Dit verteenwoordig 'n styging van 7,9%.
Hierteenoor het verkope van ligte handelsvoertuie effens afgeneem en is die totaal 227 eenhede minder (1,7%) as Oktober 2016 se 13 603.
In die Toptien-kategorie het Toyota weer uitgestyg met 'n totaal van 12 312 - danksy Hilux (2 483), Corolla, Auris en Quest (2 135) en Fortuner wat 1 337 nuwe eienaars gekry het. Toyota sal egter bekommerd wees dat sy luukse reeks (Lexus) net 61 verkope kon haal teenoor Jaguar wat 101 verkope aangemeld het.
Steeds in die tweede plek het Volkswagen (7 898) ook goed gevaar danksy Polo Vivo (2 851) en Polo op 1 950 verkope. Die groep sal egter kennis daarvan neem dat sy puik Tiguan (336) en Amarok (256) sukkel - veral gemeet teen Toyota se RAV-verkope van 916 en Hyundai Tucson wat na 522 nuwe eienaars gegaan het.
Hoewel Ford SA steeds in die derde plek algeheel is, kan hy tevrede voel deurdat Ranger (2 941) die algehele topverkoper was en Hilux gemaklik getroef het.
Ford-presteerders sluit in EcoSport met 1 047 verkope, Fiesta op 855 en Mustang wat 61 verkope aangeteken het.
Nissan beklee steeds die vierde plek met 4 858 verkope, danksy NP200 op 1 348, NP300 op 855, terwyl X-Trail 396 nuwe verkope aangeteken het.
Die Koreaanse aanslag word gelei deur Hyundai (3 464), danksy i20 met 640 verkope, Tucson op 522 en Creta met 'n heel skaflike 395.
Tot die meeste waarnemers se verbasing verkoop Isuzu steeds Chevrolet-produkte en beklee hy die sesde plek met 'n totaal van 2 452 voertuie. Topverkopers, oudergewoonte, was Isuzu KB (1 399) en Chev Ute op 346, terwyl die Opel-handelsnaam gesorg het vir altesame 215 verkope .
Met 'n merkwaardige prestasie skuif nog 'n Koreaan, Kia, in die sewende plek in ten koste van Mercedes-Benz. Kia se 2 219-totaal is moontlik gemaak deur Picanto (1020), Rio op 843 verkope en Sportage met 161. Heel duidelik in veral Picanto se geval, het kopers gestem ten gunste van gehalte en waarde vir geld.
Die enigste Franse vervaardiger onder die Toptien, Renault, blaas in Kia se nek met sy goeie syfers (2 150) - danksy Kwid (511), Clio IV (696) en Sandero II op 442 verkope.
Mercedes-Benz (2 015) en BMW (1 347) rapporteer nie individuele modelverkope nie en beklee die negende en laaste plek onderskeidelik.
Onder die vervaardigers en invoerders wat nie die Toptien-lys gehaal het nie, het Suzuki uitsonderlik presteer met 917 verkope, terwyl Mazda (1 116) ook goed gevaar het. Mitsubishi, met 'n beskeie totaal van 99, behoort veel beter te vaar - veral na die bekendstelling van die puik nuwe Pajero Sport (27).
Betoon gerus empatie met Peugeot (69) en Chrysler SA (120).
Dis duidelik dat die mark tans negatief reageer op die ANC-opvolgstryd, maar daar word desondanks verwag dat die jaar-op-jaar groei in voertuigverkope in 2017 wel 1,5% sal haal.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'