MOTORING NEWS - Suzuki Suid-Afrika is nou, danksy die gewildheid van voertuie soos die nuwe Jimny, Ignis en Swift, amptelik deel van die 1 000-eenhede-per-maand klub en boonop een van Suid-Afrika se top-10-handelsname.
Dié uitsonderlike prestasie is bevestig deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa), wat die amptelike verkoopsyfers vir Desember en die hele 2018 bekend gemaak het.
Die statistieke wys Suzuki het in 2018 12 123 voertuie verkoop, wat groei van ongeveer 37% verteenwoordig. Die prestasie was boonop te midde van 'n algehele motormark wat in dieselfde tyd met 1% gekrimp het.
Met verkope van meer as 12 000-eenhede, is Suzuki nou deel van die 1 000-voertuie-per maand klub, sowat 'n dekade ná die handelsnaam in Suid-Afrika hervestig het en net 16 maande ná hy die eerste keer deur dié verkoopskerf gebreek het in Augustus 2017.
"Ons is veral trots op die feit dat ons handelaars vir die meeste groei en verkope – altesame 9 375 eenhede verlede jaar – verantwoordelik was.
Dit beteken ons groei kom van privaatkopers wat die handelsnaam kies en nie van groot transaksies deur vlootmaatskappye wat bloot ons syfers verbeter nie," sê André Venter, afdelingshoof vir verkope en bemarking by Suzuki Suid-Afrika.
In Desember het Suzuki 938 motors en ligte handelsvoertuie verkoop vir 'n 2,3% aandeel van die algehele motormark en 'n 3,3%-aandeel van die passasiersmotormark.
Suzuki het ook in dié maand sy posisie as nommer tien onder die beste tien handelsname verstewig.
"Ons hoop om vanjaar ons handelaarsnetwerk en produkreeks verder uit te brei en só steeds te groei," sê Venter. "Ons is besonder opgewonde oor die groen lig uit Japan om ons innoverende Boosterjet-turbo-enjins in Suid-Afrika bekend te stel."
Die Boosterjet-enjins is toegerus met 'n kort-inlaatspruitstuk, 'n geïntegreerde uitlaatspruitstuk, 'n turbo met tussenverkoeler en Suzuki se unieke liggewig-tegnologie vir goeie kraglewering en goeie brandstofverbruik.
Die Suzuki Swift Sport sal een van die eerste modelle wees wat met hierdie nuwe enjin sal spog.
In die Swift Sport sal die 1,4-liter Boosterjet-enjin 103 kW en 'n stewige 230 Nm se wringkrag lewer, terwyl die brandstofverbruik so laag as 6,1 liter per 100 km is, afhangend van die keuse van ratkas.
Die maatskappy poog om die lang waglys op gunstelinge soos die Jimny te verkort deur meer eenhede beskikbaar te stel.
Suzuki is Suid-Afrika se handelsnaam wat die vinnigste groei. Die maatskappy is ook die Handelsnaam van die Jaar, soos aangewys in die verbruikerstoekennings van Cars.co.za, geborg deur WesBank. Suzuki is die afgelope twee jaar die houer van hierdie twee gesogte titels.
Die splinternuwe Suzuki Swift en Suzuki Jimny is albei gekies as finaliste in die AutoTrader Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-wedstryd van die SA Gilde van Motorjoernaliste.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'