MOTORNUUS - Die wit karretjie met die registrasienommer NODDY 59-WP wat dikwels in Barrystraat op Riversdal staan, het 'n spesiale plek in sy baas se hart.
Die wit Morris Minor 1000 is Tertius le Roux van Le Roux Rekenmeesters se geliefkoosde ryding.
"Die storieboekkarakter Noddy ry mos met so 'n karretjie," verduidelik hy dié unieke registrasienommer.
Die 59 verwys na die jaar waarin die voertuig vervaardig is, en na 60 jaar lyk dit nog spiekeries.
Enid Blyton het 70 jaar gelede in 1949 die ikoniese storieboekkarakter, Noddy die lig laat sien, so Tertius se Noddy is sy naamgenoot se "Minor" met 'n volle 10 jaar.
Die storieboekkarakter Noddy is 'n houtseuntjie wat sy speelgoedmaatjies in speelgoedland rondry. Noddy het in 1955 sy verskyning op Britse TV gemaak en was in die 80's ook in Suid-Afrika 'n gewilde reeks - en nie net onder kinders nie!
Die oorspronklike motor wat Enid Blyton se maatskappy na haar dood in 1969 aangekoop het om die Noddy-boeke te bemark, is egter 'n 1969 Fiat Gamine Vignale.
Daar ook talle ander Noddy-motors gebou soos dié van die Hearn-egpaar van die klein markdorpie, March in Cambridgeshire, Engeland. Hulle Noddy-kar was 'n 1977 Reliant Kitten wat op 'n druppel water soos die tekenprentkarretjie gelyk het.
Die Hearns het dikwels aangetrek soos Noddy en sy maatjie Big Ears en dan talle welsynsprojekte opgehelder met hulle teenwoordigheid. Die egpaar, reeds diep in hulle 80's, het die karretjie sowat twee jaar gelede verkoop.
Van Herbie na Noddy
Tertius vertel hy het 'n 1971 VW Beetle gehad waarmee hy jare lank werk toe gery het. "In 'n stadium het my vrou, Alida, gesê sy hou meer van 'n Morris en ek het na een begin soek." Toe hy een op Gumtree sien, het hy dadelik belang- gestel. "Die voertuig het aan 'n oubaas van Standerton in Mpumalanga behoort."
"Sy dogter het dit geërf en aan die hotelbestuurder op die naburige dorpie, Val verkoop, wat dit weer in die mark gesit het."
Tertius het 'n sleepwa in Mosselbaai gehuur en die karretjie gaan haal. Hy het die Morris op die sleepwa teruggebring; in Mosselbaai die sleepwa teruggegee; ingeklim; die sleutel gedraai en sonder enige probleme Riversdal toe gery.
Die voertuig is en lyk nog oorspronklik. Plaaslike mense het die nodige werkies aan die bakwerk, enjin en stoffering gedoen. "Die bakwerk het 'n paar roesplekkies gehad wat ek laat regmaak het, want ek ry nie met 'n maplotter-kar nie." Onderdele is uit Engeland ingevoer, die enjin is versien en die sitplekke is nuut oorgetrek.
Die sitplekke is nuut oorgetrek in die oorspronklike rooi.
Rondrits
Volgens hom is dit 'n lekker karretjie om in die dorp mee rond te ry. "Noddy is lig op brandstof - ek ry so ses weke lank met 'n tenk petrol."
Behalwe wanneer dit reën - nie oor hy vir 'n bietjie nattigheid bang is nie, maar die ruite wasem toe. "Daai jare se karre het nie uitgekom met fênsie goed wat die vensters warm blaas nie!"
Wanneer die son skyn, staan die karretjie oorkant Tertius se kantoor in die straat. "Hy kan maar in die son staan, hy kom niks oor nie - die paneelbord is nie van plastiek nie."
Dis ook die enigste van die gesin se drie voertuie waarin die drie steekbaardbrakke mag saamry.
Die Morris word dikwels vir troues en matriekafskeide gebruik, maar neem nie aan die George-oumotorskou deel nie. "Ek hou nie van afshow nie," sê Tertius.
Wat is Noddy vir hom werd? "'n Oom wat altyd met 'n ou groen Chev-bakkie gery het, het op 'n keer gesê daai bakkie is net soveel werd as sy buurman se groot nuwe ryding, want dit bring hom ook waar hy wil wees. Baie van ons heg te veel waarde aan aardse goed."
Vir die verkeerde redes, ja, maar Noddy is 'n uitsondering.
Die oorspronklike Noddy-kar, 'n 1969 Fiat Gamine Vignale, wat na die Noddy-skrywer, Enid Blyton se dood in 1969 geskep is.
Lees 'n vorige artikel hier: Mooi Morris met unieke naam
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'