MOTORNUUS - 'n Groot groep motorentoesiaste van Just Wheels het Saterdag 20 November by Stilbaai-gholfklub bymekaar gekom vir ontbyt en sommer net om te gesels.
Volgens Just Wheels se woordvoerder, Johan Beetge, is dit nie 'n klub nie, maar net 'n groep mense wat 'n liefde en passie vir ou en unieke motors deel.
"Ons probeer om maandeliks bymekaar te kom en dan ry ons selfs so ver as Witsand en Mosselbaai op 'n breakfast run wat gewoonlik sowat 15 motors lok," vertel hy.
Johan het met sy 1974 Datsun 1200-bakkie opgedaag, wat nie 'n merkie het nie.
Hugo van Dyk sê dat hy in 2017 met sy 1964 Ford Cortina GT Victoria-Wes toe gery het vir 'n ou motorbyeenkoms ten bate van 'n kerk of ouetehuis. Hy het dit so geniet dat hy in 2018 weer gegaan het, en die keer het nog vier motors saam met hom die reis aangepak. Hugo ry nog die wêreld vol met sy Ford.
Die saadjie is geplant en Just Wheels, Stilbaai het tot 'n WhatsApp-groep van 76 mense gegroei.
Die ou en unieke motors het een vir een by die gholfklub aangekom en dit was opvallend dat die gades duidelik net so trots op die motors is. Leon Oelofse was daar met sy twee veteraanmotors, 'n 1906 Renault en 'n 1911 Model T-Ford. Elima Mhatey het spesiaal vir die byeenkoms met haar Mercedes Benz Ponton 1959 uit die Kaap gekom.
Mense wat belangstel om meer te wete te kom van hierdie ou motors, of op soek is na inligting, kan Johan Beetge by 083 725 3790 skakel.
Die groep het 'n groot passie vir ou, maar ook unieke motors en het Saterdag in Stilbaai bymekaargekom.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'