MOTORNUUS - Die vuurwaens van gister roep mooi herinneringe op en laat die bloed warm bruis.
Baie mense droom daarvan om 'n klassieke motor in hul eie motorhuise te parkeer.
Dis egter 'n groot uitgawe om aan te gaan en die oningeligte koper kan maklik in slaggate trap.
Hier is 'n paar punte om in gedagte te hou:
- Doen deeglik huiswerk oor die soort motor wat op die inkopielys is. Daar is 'n verskil tussen 'n klassieke motor en 'n voertuig wat net oud is. Gaan jou keuse in waarde val sodra hy die winkelvloer verlaat, of styg?
- Nuwelinge tot die mark sal beter af wees met 'n motor wat minder werk nodig het. Die koste van herstelwerk kan vinnig klim en dalk meer tyd in beslag neem as wat aanvanklik beplan is.
- Kry vooraf duidelikheid oor die maak en model voertuig waarna gesoek word. Is onderdele vir daardie model geredelik in Suid-Afrika verkrygbaar? Kenners beveel motors uit die tagtigerjare aan as 'n veilige beginpunt.
- Waarvoor sal die motor gebruik word? Moet dit vervoer vir elke dag wees, of net 'n vertoonstuk?
- Kry vooraf 'n versekeringskwotasie en reken dit in by die lopende koste waarvoor begroot word.
- Neem jou eie meganiese vaardighede in ag. Gaan daar op gereelde basis 'n spesialiswerktuigkundige nodig wees?
- Enige roeskol op die bakwerk is genoeg rede vir twee keer dink. Oppervlakroes beskadig nie net die bakwerk nie, maar kan spruit uit ernstige struktuurprobleme.
- Kyk of daar oliekolle op die grond onder die voertuig lê.
- Kry die motor se geskiedenis indien enigsins moontlik. Was die voertuig in enige ernstige ongelukke betrokke? Wat is die onderhoudsrekord? Hoeveel eienaars het die motor gehad en wat was die rede vir elke verkoop?
- Is daar enige modifikasies aan die standaardenjin of bakwerk gemaak?
- Ondersoek die bakwerk deeglik vir enige gapings tussen panele, maak seker dat lyne wat reguit moet loop wel reguit is en toets die meganismes wat die deure, kattebak, enjinkap en vensters oopmaak.
- Die idee om op 'n veiling te koop mag aanloklik klink, maar indien daar nie voldoende geleentheid vir vooraf inspeksie gegee word nie, moet rooi ligte flikker.
- Moenie oorhaastig besluit nie.
- Benut die ervaring en advies wat 'n plaaslike motorklub kan bied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'