Gallery Update
STILBAAI NUUS - 'n Paar ou motors is behoorlik gepoets voor hulle Saterdag 28 Oktober uit die motorhuise getrek is om by Lappiesbaai bymekaar te kom sodat motorliefhebbers hulle van nader kon aanskou.
Dit is reeds die vierde saamtrek van sy soort hier.
Volgens die organiseerder, Johan Beetge, is die doel van die dag nie net om die motors uit te stal nie, maar om die eienaars te kry om hul voertuie ook bietjie te ry.
Hy self is die eienaar van 'n Chev Rekord waarin twee 'kinders' (poppe) reeds vir 15 jaar agter op die sitplek staan.
Heelwat eienaars van ou motors vanaf Riversdal was by die byeenkoms, waaronder pa en seun Maurice en Melvin Leonard.
Maurice het sy rooi en wit 1965 Ford Fairlane 500 Sport vir die geleentheid afgestof, terwyl Melvin die baai met sy netjiese blou VW-bakkie besoek het.
Van die ander voertuie het ingesluit 'n 1961 VW Beetle wat nog met sy oorspronklike 1200cc-enjin toegerus is (dit was die eerste Kewers wat flikkerligte gehad het), 'n MG wat aan Herman Rudd behoort, Hennie Stander met sy 1968 Ford 20M 2300S en 1975 AMC Hornet 410, Henk Lourens se 1968 Toyota-bakkie met sy houtkappie, asook 'n 1958 Morris Minor-bakkie.
Die Just Wheels Stilbaai-motoreienaargroep is deur Harry Stroebel van Pro Motors op Riversdal genooi om op 25 November die buurdorp te besoek en hulle sal dan saam met Riversdal se ou motors saamtrek.
Lees 'n vorige artikel: Blink oues spog in baai
ARTIKEL EN FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'