RIVERSDAL NUUS - ‘n Inwoner van Kwanokuhtula het onlangs ‘n stuk yster in ‘n pak aartappelskyfies gekry wat sy by ‘n spaza-winkel gekoop het.
Dié inwoner, wat verkies om anoniem te bly, was erg geskok oor die ontdekking. Sy het die regte ding gedoen en die gesondheidinspekteur en polisie daarvan verwittig.
“Die gesondheidinspekteur en polisie het opgedaag en foto’s geneem. Die winkeleienaar het my die volgende dag geskakel en groot om verskoning gevra. Hy het die versekering gegee hulle is besig met opgradering. Die saak is nou uitsorteer,” sê sy.
By nadere navraag van Suid-Kaap Forum blyk daar verwarring hieroor te wees.
Verskeie rolspelers het ons heen en weer verwys. “Ons dra nie kennis daarvan nie en geen kriminele saak is aanhangig gemaak nie,” sê sers. Christiaan Jansen, die SAPD se woordvoerder in Riversdal.
Die gesondheidinspekteur, Haemish Herwels, het versoek dat ons ‘n amptelike navraag aan die Tuinroete-distrikmunisipaliteit se kommunikasie-afdeling rig. Ons het.
Herman Pieters, die kommunikasiebestuurder, het onmiddellik gereageer. Hy het gemeen ons navraag moet eerder deur die polisie hanteer word en het ons vrae per e-pos aan sers. Christopher Spies gerig - met die versoek om duidelikheid te verleen.
Teen spertyd het ons nog geen antwoorde gekry nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’