STILBAAI NUUS - Voorbereidings vir Stilbaai se eie Passiespel, wat vir 12 en 13 April beplan word, is reeds volstoom aan die gang.
Die gemeenskapsprojek is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die provinsiale regering en word in die Stilbaai-gemeenskapsaal gehou. Die akteurs oefen reeds voluit om die rolle hulle eie te maak.
"Onder leiding van die regisseur, Pauline Hollis, heers daar groot opgewondenheid oor die finale produk," sê Pieter Lategan, die organiseerder. "Die entoesiasme van die amateur-akteurs, van die hoofrolspelers tot die byspelers, is aansteeklik en net weereens 'n bewys van die baie en soms nog onontginde talent wat in Stilbaai en omgewing is."
Omdat die Stilbaai Passiespel as 'n gemeenskapsprojek aangebied word, is deelname van almal in Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein vir die organiseerders van groot belang. Die spelers sê dit is wonderlik om deel te wees van die projek en dat hulle kosbare vriende in geloof word.
Hulle sê die gees, gesindheid en vibe tussen die spelers is goed en daarom gaan die Passiespel werk.
Al was die datum om aan te sluit 31 Januarie, is belangstellendes steeds welkom om deel te word of sommer net te kom kyk wat gedoen word. Nie alle rolle is praatrolle nie en daar word nog gesoek na dissipels, soldate en mense in die skares wat Jesus volg. Hulp met die maak van rekwisiete, grimering, herstel van kostuums en die bou van die dekor, veral die stellasies waarop die 62 koorlede gaan staan, is ook nodig. Die koste word so laag moontlik gehou sodat toegang vir almal moontlik is. 'n Bankrekening, wat deur twee onafhanklike persone geadministreer word, is geopen. Die organiseerders nooi besighede en inidividue om skenkings in die rekening te betaal. Die bankbesonderhede is Nedbank: Passiespele, rekeningnommer 1174408537.
Repetisie vind elke Dinsdag en Donderdag vanaf 18:00 tot 20:00 in die saal van die Palinggatoord plaas.
Die organiseerders vra: "Kom word deel van Stilbaai se Passiespel, ons het jou nodig."
Kontak Elsie Lategan by 083 320 8380 vir meer inligting.
Van die Passiespel-akteurs besig om te repeteer.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'