Wat egter 'n jammerte is, omdat dit blyk of die stukkie geskiedenis nou ook besig is om te verval. Die Garcia tolhuis is volgens 'n kennisgewing in die Staatskoerant proklomasie no. 971 van 30 Mei 1968 en 'n berig in die destydse Het Suid Western koerant van 3 Oktober 1968 tot 'n historiese monument verklaar. Suid-Kaap FORUM is gekontak deur 'n plaaslike inwoner wat sy kommer uitgespreek het hoe dit daar lyk. Volgens hom loop die vullisdrom oor van vullis en was die deur nie gesluit soos dit hoort nie en by 'n vorige besoek was dit ook blykbaar die geval.
Volgens mnr. Shagon Carelse van die Hessequa munisipaliteit behoort die ou Tolhuis aan CapeNature, maar die sleutel en besprekings word hanteer deur die Hessequa munisipaliteit. Beide die publiek, asook van CapeNature se werkspanne maak gebruik van die ou Tolhuis. Volgens Carelse was die munisipaliteit in gesprek met CapeNature met die doel om die infrastruktuur op te gradeer, maar CapeNature het aangedui dat dit nie nodig is nie omdat hulle die gebou op die 'Publieke Werke' skedule sou sit vir die allokasie van fondse vir die nodige onderhoudswerk daarvan.
Geskiedenis
Die Garcia tolhuis bestaan reeds sedert die 1800's met die eerste tolwagter wat op 1 November 1877 in die tolhuis ingetrek het. Daar is egter met die opening van die pas reeds voorsiening gemaak vir die oprig van die tolhuis op die piek van die pas.
Volgens oorvertellinge is dit in die vroeë 1900's beskadig toe daar 'n sterk wind in die pas was en is daar in die afdelingsraad se notules aangedui dat die hele tolhuis herbou sou word as 'n woonhuis, met volledige spesifikasies oor hoe dit gedoen moet word.
Die tolhek is op 31 Desember 1918 afgeskaf en was die laaste tolwagter volgens advertensies in die plaaslike koerant ene Jan Swart.
Monument
In 1967 het prof. J. du P. Scholtz, dr. Willem Fehr en mnr. B.D. Malan van die historiese monumente kommissie, Riversdal besoek om inspeksie te doen op die gronde van die tolhuis. Daar was ruïnes van twee tolhuise op die terrein. Slegs 'n gedeelte van 'n muur van die oorspronklike tolhuis is nog sigbaar en die tweede, nuwer tolhuis was nog in 'n redelike toestand. Die plaaslike afdelingsraad het die verantwoordelikheid aanvaar vir die onderhoud van die tolhuis. V
olgens geskiedenis was daar beslis twee tolhuise en sou twee groot eikebome by die ou tolhuis ook ingesluit word wanneer dit as historiese monument verklaar word. Nadat die tolhuis tot monument verklaar is, is die gebou tot beskikking van die Voortrekkers gestel teen 'n nominale huurgeld van 10c per jaar. Die teerpad en die herbou van die Garciapas van Riversdal na Ladismith is in 1976 voltooi.
(Historiese inligting: met dank aan Emsie Martin).

Die Garcia tolhuis.