RIVERSDAL NUUS - Riverville-stadion gaan Saterdag 12 September ’n miernes van bedrywighede wees wanneer atlete vir ’n groot Wes-Kaapse landloopbyeenkoms in Riversdal saamtrek.
Die byeenkoms, wat om 10:00 begin, word deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die Wes-Kaapse regering ondersteun en beloof om talle atlete en hul ondersteuners na die dorp te lok.
Organiseerders doen ’n beroep op Riversdallers om in hul getalle op te daag en die atlete langs die roete te ondersteun.
Hekgeld beloop slegs R10 per persoon.
Die byeenkoms bied nie net ’n geleentheid om van die provinsie se landlooptalent in aksie te sien nie, maar kan ook ’n welkome ekonomiese inspuiting vir Riversdal beteken.
Besoekende atlete, afrigters, familie en ondersteuners kan plaaslike ondernemings, restaurante en ander sake gedurende hul besoek bevoordeel.
Die boodskap van die organiseerders is eenvoudig: “Kom ons ondersteun ons atlete!”
Die byeenkoms vind Saterdag om 10:00 by Riverville-stadion plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’