RIVERSDAL NUUS - Met die agteruitgang van hedendaagse waardes en norme is dit tog verblydend dat daar daadwerklike pogings aangewend word om die verval van ons samelewing teen te werk.
Met dit in ag geneem, het een van die streek se bekendste inwoners en opvoeders, Dennis Karelse, waarnemende Kring 1- bestuurder, die nood raakgesien en besluit om daadwerklik iets daaraan te doen.
Karelse het in samewerking met Quinton Adams, opvoedkundige sielkundige, Adams se geslaagde "Dissipline begin by die huis"-werksessie van stapel gestuur.
Die werksessie is Saterdag 20 Junie by Panorama Primêr in Riversdal aangebied.
Nagenoeg 200 ouers van 28 skole in die Hessequa-streek het die dag se verrigtinge bygewoon.
Volgens Karelse het die aanwesiges gretig en passievol aan al die aktiwiteite deelgeneem.
Hy het gesê hulle fokus op:
• Die skep van 'n blywende en meetbare impak in skoolgemeenskappe;
• Die bemagtiging van skole en ouers;
• Die vestiging van 'n volhoubare Visie 100-impak in gemeenskappe.
Hy het ook benadruk dat die werksessie deel uitmaak van 'n groter beweging waar daar saamgewerk word om dissipline, waardes en verantwoordelikheid vanuit die huis te versterk, wat dan as fondament vir leer en sukses by die skool sal dien.
Ten slotte het beide Karelse en Adams beklemtoon dat hulle baie opgewonde is oor die projek en glo dat klein, doelgerigte, daaglikse aksies 'n betekenisvolle verskil kan maak.
"As Kring 1 is dit ons geleentheid om 'n sosiale rewolusie in ons gemeenskappe te begin, een wat 'n positiewe en blywende impak sal hê," het Karelse vol vertroue benadruk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’