HEIDELBERG NUUS - Met die pleidooi van talle jeugdiges dat die vooruitsigte om ordentlike werksgeleenthede te bekom byna nul is, is dit verblydend dat opleiding in drie verskillende vakrigtings weer vir hulle beskikbaar gestel word.
Nagenoeg 100 jeugdiges het op Maandag 8 Junie opleiding in omgewingspraktyk (OP), nuwe ondernemingskepping entrepreneurskap (NOE) en vroeë kinderontwikkeling (VKO) begin.
Die opleiding is een van die departement van arbeid se vele bemagtigingskursusse wat deur Elgin Gemeenskapskollege aangebied en gefasiliteer word.
Die kursusse in nuwe ondernemingskepping entrepreneurskap en vroeë kinderontwikkeling duur ses maande, terwyl die omgewingspraktykkursus vir een jaar aangebied word.
Volgens die drie fasiliteerders, Ronald Rossouw (NOE), Katlego Pitse (OP) en Pearl Pieters (VKO), is hulle baie beïndruk met die studente se deelname en toegewydheid om ’n sukses te maak van die geleentheid wat aan hulle gebied is.
Tydens Suid-Kaap Forum se besoek het een van die studente, Joy-Mary Roberts, onder die toesighoudende oog van Rossouw, haar groep se voorlegging aan medestudente aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’