HEIDELBERG NUUS - Die enigmatiese skrywer Belinda Kruiper, die kleurryke mediapersoonlikheid Lyntjie Jaars, die ikoniese Coenie de Villiers en nóg wêreld-musici is Vrydag 20 September deel van die sewende Harmoniefees in dié dorp.
Daar is kamermusiek én koek, ook.
En ses uiteenlopende kunsuitstallings - aangebied deur feeskunskurator, Louise Kluyts, die voorsitter van die Hessequa-kunsroetekomitee.
Negeuur die oggend kan feesgangers ‘n ligte ontbyt die Doornboom-opstal (Fouriehuis) geniet en na ‘n gesprek oor die boek Kalahari Waarheid luister.
Aansluitend by die tema is daar ‘n uitstalling van kuns met die tema: Forté: fragmente van die waarheid - deur die skilders Marilise Lombard (Riversdal) en Anita McLaughlin (Stilbaai).
Om halftwee volg die leefstyl-aanbieding Kamermusiek & Koek (met koffie en tee) by die kuierrestaurant Proeviand. Die klassieke kwartet Take4 - met Zanta Hofmeyr (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool), Susan Mouton (tjello) en Elna van der Merwe (klavier) - voer verruklike kamermusiek van Wolfgang Amadeus Mozart en Gabriel Fauré uit.
Sonsaktyd, halfses die aand, bring die bekroonde musikant, liedjieskrywer, sanger en TV-persoonlikheid Coenie de Villiers - saam met die verbysterende ghitaar-maestro Mauritz Lotz - ‘n stukkie Ciprus-Grieksheid Hessequa toe met die produksie Op ‘n eiland in die stadsaal.
Musiekliefhebbers kan uitsien na ‘n aantal liedjies, wat hy tydens sy verblyf daar geskep en opgeneem het, en nou die eerste keer voor ‘n gehoor vertolk. Dit is ‘n musikale reis wat vaar op die nostalgie van herinneringe.
En dan moet die jy ‘n toon na die NG Kerk trap vir die ATKV se jaarlikse galakonsert. Daar is plek vir sowat 1 500 verlore en/of geredde siele.
Met musikale salwing en seëninge deur Reghardt Kühn (dirigent), die Wynlandse Filharmoniese Orkes, Janel Speelman (sopraan), Jacobi de Villiers (mezzosopraan), Niël Rademan (bariton), Corneil Muller (bariton), die Suid-Kaap-kinderkoor en ’n reuse-gemeenskapskoor, onder leiding van die kreatiewe koormusiek-fundi Betsie Ryke.
Tussendeur al die opwindende daaglikse aanbiedinge kan jy ses uitlopende kunsuitstallings binne loop-afstand in en van Van Riebeeckstraat met jou kunspaspoort besigtig. As jy al ses uitstallings besoek het, kan jy dalk 'n pragtige skildery deur die digitale skepper Francois Gunter, van Swellendam, wen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Die kleurryke media-persoonlikheid Lyntjie Jaars gesels met die enigmatiese skrywer Belinda Kruiper (bo) oor haar jongste boek wat die waarhede van die Kalahari verklap. Foto verskaf.