HEIDELBERG NUUS - Vroue in die Heidelberg-distrik het Vrouemaand behoorlik gevier. Nagenoeg 450 vroue is by vyf funksies in Augustus getrakteer.
Heidelberg
Tydens die eerste funksie is 90 vroue in die stadsaal deur die plaaslike polisie en Hessequa-munisipaliteit onder die tema, Omhels Vroue, Omhels Billikheid, deur verskeie rolspelers toegespreek. Kapt. Rosetta Bhana, Da Gama-streekkapelaan, het met Skriflesing en gebed geopen.
Grant Riddles, Hessequa-burgemeester, Gerald Boezak, wyksraadslid, Annelene Hartnick, voormalige wyksraadslid asook ao. Blackie Swart waarnemende Vispol-hoof, het die vroue bemoedig.
Brig. Belinda Pather, adjunk-distrikskommissaris, het 'n inspirerende motiveringstoespraak gelewer. Jamy-Lee Horn van Riversdal, het die dames met haar goue stem betower.
Farren Vergotine van Mosselbaai besig met haar geestelike danspassies.
Duivenhoks-gemeenskapsaal
Tydens die tweede funksie op Woensdag 9 Augustus in die Duivenhoks-gemeenskapsaal het die plaaslike ANC-tak, 140 vroue, as deel van hul vieringe bederf.
Annelene Hartnick, voormalige wyksraadslid was die gasspreker en sy het hulle aangespoor om die geleenthede wat beskikbaar is aan te gryp om hul omstandighede te verbeter.
Suzie's-sopkombuis
Op 9 Augustus het Susanna Cillie se Suzie's-sopkombuis in samewerking met die Mossel Bay Community Soup Drive (MBCSD) 'n funksie aangebied waar vroue met sang, dans en motiveringstoesprake bederf is.
William Sam, voorsitter van MBCSD en Milton Fillies ook van MBCSD, het die vroue van hul ondersteuning tydens hul toesprake verseker. Farren Vergotine het met haar geestelike danspassies die vroue betower. Silvia Jasen het vertel hoe sy verkrag is en het 'n beroep op alle vroue gedoen om nie stil te bly oor hul mishandeling nie.
Slangrivier-gemeenskapsaal
In die Slangrivier-gemeenskapsaal is nagenoeg 70 vroue op dié dag bederf. Die verrigtinge is deur die DA se vrouenetwerk aangebied.
Gerald Boezak, burgemeesters-komiteelid asook Jobieth Hoogbaard, raadslid van Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het die aanwesiges kortliks toegespreek.
Op Saterdag 19 Augustus is nog 'n funksie in die Slangrivier-gemeenskapsaal deur 'n plaaslike inwoner en geestelike leier, Caroline Kayster, aangebied. Hier is plaaslike vroue en vroue vanaf Piketberg, Malmesbury en Kaapstad onder die tema, Picture Perfect Bride, getrakteer.
Verskeie sprekers waaronder, Ina Hoogbaard, plaaslike geestelikeleier, Coulette Kennel en Brenda Lewis, beide motiveringsprekers van Kaapstad, het die vroue toegespreek. Sarah Japthes, van Paarl, het as programbestuurder, opgetree.
Nadia Boezak, van die NWO Undercover Heros, en skrywer van die boek, Blooming Home het ook kortliks die aanwesiges bemoedig om vir hul regte op te staan. Kennel en Hoogbaard het met roerende toesprake die vroue aangemoedig om hulle regmatige plek in die huis asook kerk en breë gemeenskap vol te staan.
Tydens al die vieringe is die aanwesiges met heerlike eetgoed bederf.
Sarah Japthes (programbestuurder), Coulette Kennel (spreker), Brenda Lewis (spreker), Caroline Kayster en Ina Hoogbaard (spreker).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’