Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Oud-Heidelberger Gavin Pietersen, wat nou in Kraaifontein woon, het sy belofte van 2021 nagekom toe hy nie net aan leerders van Vondeling Primêr nie, maar ook aan die personeel en skool 'n groot finansiële donasie van R20 000 geskenk het.
Die verrigtinge was Vrydag 10 Junie by die skool waar 25 leerders met skoene, kouse en lekkernye bederf is.
Vyf leerders het ook truie ontvang, terwyl nog vyf reënbaadjies gekry het. Pietersen voorsien sedert 2018 aan die skool se behoeftigste leerders broodnodige items.
Dié inisiatief het met 10 leerders begin en staan nou op 25.
Volgens Pietersen, wat self tydens sy laerskooldae kaalvoet skool toe moes stap, het hy besluit om die jaar ook vyf leerders wat op akademiese, sowel as sportvlak presteer met R250 te beloon.
Ella van Wyk, 'n opvoeder, wat verjaar het, het 'n skenking van R2 500 ontvang waarmee sy haarself en haar kollegas na skool kon gaan bederf.
Pietersen het in sy kort toespraak die leerders gemotiveer om vir mekaar om te gee. "Maak tyd vir mekaar en wees mededeelsaam, want so kan ons sterker families, skole en gemeenskappe bou."
Hy het ook die opvoeders bedank vir hul bydrae tot die opvoeding van elke leerder.
Die skoolhoof, Zandra Davids, het haar dank en waardering aan Pietersen vir sy onbaatsugtige gebaar uitgespreek. Sy het hom verseker dat die skenking baie sal help om 'n afdak op te rig sodat daar meer skuiling vir die leerders is.
Sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, ao. Blackie Swart en sers. Danwill Josephs, beide sektorbestuurders het die verrigtinge bygewoon en die leerders kortliks toegespreek.
Van links staan Liezel Thyse (bibliotekaris), Agnes Fielies en Melanie Moolman (albei assistente), Zandra Davids, Gavin Pietersen, Carmen Hill en Ella van Wyk (onderwysers), Elize Hefskle (administratiewe klerk) en Chrizelda Miggels (onderwyser).
Gavin Pietersen staan by die presteerders, Willmary Willemse (gr. 6), Abbygail Saayman (gr. 5), Markwin September (atletiek), Deequn Pieterse (gr. 4) en Samantha Bayman (atletiek).
Die hoofseun en -dogter (agter), asook lede van die leerderraad spog met hul geskenke. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'