STILBAAI NUUS - Badisa het Vrydagaand, 16 Junie, 'n pragtige talentkompetisie voor 'n vol gemeenskapsaal in Melkhoutfontein gehou.
Dit was 'n Jeugdagviering in samewerking met Stilbaai-polisie, Melkhoutfontein-buurtwag, Stilbaai-gemeenskapspolisië-ringsforum en Hessequa-munisipaliteit.
Daar was geen tekort aan talent nie en in die danskompetisie het die deelnemers met van die mees innoverende danspassies vorendag gekom wat Melkhoutfontein in 'n baie lang tyd gesien het.
Dit is afgewissel met pragtige sangitems en die selfvertroue van daardie jong kinders om op te tree voor 'n saal vol jillende ondersteuners was ongelooflik.
Die aand is afgeskop met 'n modeparade waar die kinders vir hulle klere uit afval-produkte moes maak en die beoordelaars moes behoorlik bontstaan om 'n wenner aan te wys.
Die gehoor wag in spanning op die volgende opvoering.
Daarna was dit die Mej. Jeugdag-kompetisie en Jean-Claude Scheepers van WOF het sy slag gewys as 'n rymkletser. Selfs Melkhoutfontein se pom-pom meisies het opgetree.
Die hele vertoning is saamgestel en gereël deur Hestrie Prins van Badisa en sy het dit waarlik uitstekend gedoen.
Inisiatiewe soos hierdie gee kinders hoop en help om hulle van die strate af te hou. Dit gee ook vir die versteekte talent in Melkhoutfontein die geleentheid om te wys waartoe hulle in staat is. Hopelik stop dit nie hier nie.
Roderico Riddles en Tamsyn Joseph lewer 'n sangitem.
Melkhout-fontein se pom-pom meisies gaan deur hul passies.
Beoordelaars is van links: Alison Bryant, Sheryldene Tarentaal, Rachel Wall en Sonja Margerison.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’