HESSEQUA NUUS - Sondagaand 15 Maart se afkondiging van 'n nasionale ramptoestand as gevolg van die koronavirus-pandemie tref ook die plaaslike ekonomie waar dit seermaak.
'n Dorp soos Stilbaai wat baie op toerisme steun word veral so kort voor die skoolvakansie sleg geraak.
Talle aktiwiteite soos die opblaaskragbootkampioenskap wat juis beplan was om vakansiegangers te lok, moes gekanselleer word.
Volgens die bestuurder van die plaaslike toerismeburo, Annerise Wolmarans, het heelwat gastehuise aangedui dat hulle 'n beduidende aantal kansellasies het. Die buro is tans besig met 'n opname om presiese getalle vas te stel. Sy sê gastehuiseienaars met spesifieke versekering ten opsigte van hul besighede kan met 'n eis slaag, afhangend van die bepalings van hul polisse.
Die mede-eienaar van 'n bekende groot restaurant op die dorp, Anete Jardim, sê hoewel dit moeilik is om nou al te sien of die vakansietyd minder mense gaan laat uiteet, het die kansellasie van groot geleenthede op die dorp haar genoodsaak om 'n heelwat korter lys van bestellings vir die week voor te berei.
Die ekonomiese impak van die situasie blyk ook daaruit dat toegang tot so 'n groot restaurant gemoniteer sal moet word: "Wanneer ons tot vol kapasiteit gevul is, sal meer as 100 mense bymekaar wees - iets wat nie onder die nasionale rampreëls toegelaat word nie."
Hanlie Lubbe wat ook 'n restaurant op die dorp bedryf sê die onsekerheid oor die situasie maak dinge op die oomblik moeilik: "Ons weet nie waar dit heengaan nie en moet vir alle moontlikhede probeer beplan. Ons moet maar wag en sien wat die skoolvakansie gaan oplewer."
Byeenkomste wat reeds gekanselleer of uitgestel is
- Baleia Wines harvest celebration wat op 19 Maart sou plaasvind;
- Opblaaskragbootkampioenskap wat op 21 Maart sou begin;
- Kasselshoop farm run wat op 21 Maart sou plaasvind;
- Veiling van los goedere wat op 21 Maart sou plaasvind;
- Stilbaai Craft Beer, Gin and Wine Expo wat op 26 en 27 Maart sou plaasvind;
- Coffee Snobs se piekniekkonsert wat op 28 Maart sou plaasvind;
- Jongensfontein kunsmarkstalletjies wat op 28 Maart sou plaasvind;
- Juan Boucher se vertoning wat op 18 April sou plaasvind;
- Eredienste in die plaaslike NG Kerk is tot na die Paasnaweek opgeskort
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'