RIVERSDAL NUUS - Sonsoekers en waterplassers kan Erfenisdag by die Dibiki-swembad in Riversdal vier.
“Die Hessequa-munisipaliteit het gedeeltelik bygedra tot die uiters noodsaaklike opgraderingswerk aan die swembad by die Dibiki-vakansieoord. Die swembad is nou oop vir openbare gebruik,” bevestig Didi Budricks, die hoofskakelbeampte by die Hessequa-munisipaliteit.
Mart-Marie Pretorius, die bestuurder by die Dibiki-vakansieoord, het dié oord sedert 2019 in ‘n spogoord vir toeriste ontwikkel.
Dekades se verweer aan die swembad het egter opgradering vereis. Herstelwerk het reeds in Mei vanjaar begin, maar die wisselende weer het die konstruksieproses belemmer.
Dreinering-, pomp- en pypstrukture is vervang, lekkasies is herstel en die swembad is met ‘n nuwe veselglas-binnekant herbou. Die hele ruimte rondom die swembad is ook opgeknap en met nuwe plaveisel en grasperke uitgelê.
Die afgelope week is die swembad met 750 000 liter water hervul. Die water is higiënies behandel en weerkaats gesond en helderblou teen die lenteson.
Ter wille van almal se veiligheid en genot, is daar ‘n aantal reëls wat besoekers moet eerbiedig:
* Geen kinders sónder volwasse toesig nie.
* Geen gevaarlike aktiwiteite nie.
* Geen alkoholiese drank nie.
* Geen kos of drank in die swembad nie.
* Geen diere word toegelaat nie.
* Geen wapens word toegelaat nie.
* Geen vuurwerke word toegelaat nie.
* Erkende swemdrag is ‘n vereiste. Jy mag nie in onder- en oefenklere swem nie.
Mense gebruik die swembad op eie risiko. Daar is nie ‘n menseredder aan diens nie.
Die swembad is Maandae gesluit. Die toegangsfooi op Saterdae, Sondae en vakansiedae is R30; Dinsdag tot Vrydag R20.
Dié vakansieoord bestaan uit twaalf selfsorgeenhede, sestien kampstaanplekke (met privaat ablusiegeriewe) en sestien kampeerplekke (met openbare ablusiegeriewe). Al dié geriewe is operasioneel.
Die openbare munisipale swembad in Heidelberg en die De Mist-swembad in Riversdal is ook vir besoekers toeganklik.
Heerlike, warm weer word vir ’n paar dae voorspel, waarna, helaas, nog ‘n paar koue en selfs reënerige dae verwag kan word.
Gaan gryp die son!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’