STILBAAI NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het Vrydagoggend, 20 Februarie, om 09:55 bekendgemaak dat die veldbrand by Melkhoutfontein op hierdie stadium onder beheer is.
Daar is egter 'n aktiewe, ontoeganklike gebied aan die weste- en oostekant van die R305 in die rigting van Stilbaai, met voldoende plantegroei wat 'n hoë risiko inhou om later Vrydagmiddag, met die voorspelde sterk winde uit te brei.
Daar is egter noodmaatreëls vir hierdie gebied in plek, insluitend teenbrande, asook 'n helikopter wat op die toneel op bystand is.
Spanne is tans besig met nablussing in alle ander toeganklike gebiede.
Indien u 'n veld- of bosbrand opmerk, meld dit asseblief onmiddellik by die Tuinroete-noodoproepsentrum aan by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’