Update
RIVERSDAL NUUS - Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz het Riversdal op Donderdag, 21 Oktober besoek.
Die doel daarvan was om 'n openbare veiligheidsvergadering met die polisie, verkeer, buurt- en plaaswagte, sekuriteitsmaatskappye en ander belangstellendes en veiligheidsforums in die Hessequa-streek te hou.
Fritz het die belangrike rol beklemtoon wat nie net alle veiligheidstrukture nie, maar elke individu in die provinsie speel om misdaad te voorkom.
"Die Wes-Kaapse regering het 'n doelbewuste plan daargestel, waarvan veiligheid van sy mense een van die kernwaardes is," het hy gesê.
Volgens hom is dit baie duidelik dat die polisie nie alleen verantwoordelikheid vir 'n misdaadvrye gemeenskap kan vat nie.
"Ouers en volwassenes in jou gemeenskap moet tog die voorbeeld stel in jou vormingsjare. Voldoende onderwysgeriewe met passievolle onderwysers, goeie en beskikbare sportgeriewe en maatskaplike omgewing, gekoppel met werkskepping sal die polisie se taak soveel ligter maak."
Die feit dat daar te min polisielede is om polisiëring ten volle uit te voer, asook dat die polisie se hulpbronne, soos voertuie veral in landelike gebiede ver te kort skiet, is 'n groot bron van kommer.
Hierop het Fritz gesê dat die polisiediens deel van die nasionale regering is en provinsies het slegs 'n oorsigrol.
Vennootskappe belangrik
"Dit beteken egter nie dat provinsies nou maar Gods water oor Gods akker moet laat loop nie. Waar daar probleme is, word dit met minister Bheki Cele opgeneem en voorstelle word gemaak."
Die minister het bygevoeg dat die grondwet wel voorsiening maak vir wetstoepassing in munisipaliteite en dit word reeds suksesvol in die groot metros bedryf, soos Kaapstad met hulle metropolisie. Daarom is hy baie opgewonde oor die feit dat Hessequa beplan om binne die volgende vyf jaar so 'n munisipale polisiemag te vestig.
"Wat ook op die kaarte is, is 'n gebiedgebaseerde span vir Hessequa wat sal bestaan uit wetstoepassers, maatskaplike ontwikkeling, ekonomiese kenners en ander rolspelers wat holisties na die probleem sal kyk en met oplossings vorendag sal kom. Gebrek aan veiligheid is 'n interdepartementele vraagstuk en kan dus net so opgelos word," het hy gesê.
Fritz het afgesluit deur te sê dat misdaad net uitgeroei gaan word as daar vennootskappe met die agristrukture, plaas- en buurtwagte gesluit gaan word, asook die gebruik van tegnologie soos kameras op paaie en toegangsroetes. Tydens vraetyd was dit duidelik dat inwoners bekommerd is oor landelike veiligheid, die beskikbaarheid en toestand van polisievoertuie, asook die toestand van grondpaaie in dié gebiede. Daar is ook gesê dat die verskillende GPFs in Hessequa en omstreke beter sal moet saamwerk vir beter resultate.
Van die rolspelers en belangstellendes tydens die vergadering. Foto: Johan Victor
VORIGE ARTIKEL: 'n Misdaadvrye gemeenskap begin tuis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'