Gallery
RIVERSDAL NUUS - Wat het ‘n onderwyser, veeboer, saxofoonspeler en grafiese ontwerper gemeen?
Hulle is ook skilders!
“Kuns beklemtoon die skoonheid in enigiets. Jy moet net kyk en jy sal dit sien!” sê die portretskilder Danie Cronjé.
Hy stal sy kuns saam met ‘n aantal ander talentvolle kunstenaars van die dorp by die Geel Mossie se Opwip-feesgalery uit.
FOTOGALERY: Uitstalling by die Geel Mossie se Opwip-feesgalery
Dié manne beeld die natuur, alledaagse voorwerpe, die omgewing en sy mense en, veral, die skoonheid en sensualiteit van die vroulike lyf, gesig én innerlike emosie uit.
Danie was 36 jaar lank ‘n onderwyser in die Vrystaat. Tussendeur het hy strokiesprente geteken wat in Die Volksblad en in Afrikaans-skoolhandboeke gebruik is. Ná sy aftrede in 2014 het hy oorgeskakel na pastel- en skilderwerk, hoofsaaklik met portret- en figuurstudies as onderwerp. Nou werk hy hoofsaaklik in olieverf en akriel. Sy werke word by die Atterbury-kunsgalery in Mosselbaai en ateljees regdeur Hessequa uitgestal.
Die grafiese ontwerper en digitale kunsskepper Koos Gagiano het die treffende plakkaat vir dié tentoonstelling ontwerp. Hy is egter ook ‘n bedrewe skilder en werk hoofsaaklik met akriel op doek. “Kuns versterk gemeenskaplike trots en wek ‘n gevoel van samehorigheid, dit bevorder kreatiwiteit, kultuurbewustheid en verbind mense deur gedeelde uitdrukkings,” sê hy.
Keith Grieve boer eintlik met varke en kalkoene op 'n plaas buite die dorp. Maar sy passie vir fotografie, houtwerk en olieverf is die vergestalting van kreatiewe veelsydigheid.
In fotografie vang hy 'n oomblik vas; selfs 'n emosie - hoe vlietend ook al.
Hy sê sy houtwerk laat hom toe om 'n item van skoonheid en bewondering te skep. Maar, dit laat hom ook toe om 'n item te maak wat in die daaglikse lewe gebruik word, soos 'n broodbord.
“In my skilderkuns interpreteer ek hoe ek die lewe om my op daardie oomblik waarneem. Wanneer iemand die geleentheid kry om jou werk te waardeer, kan hulle moontlik 'n verbintenis met hul eie ervarings daarin ontdek.”
James Stanley werk in multi-media en skep sy kunswerke met olieverf, akriel, waterverf, houtskool en potlood. Hy is ook ‘n bedrewe boekbinder en restoureer ou manuskripte. Hy is boonop nogal handvaardig met die sweismasjien en het die uitstalstaanders vir dié uitstalling gemaak. James is ook ‘n puik musikant en het tydens sy militêre jare die saxofoon in ‘n blaasorkes bespeel. Hy tree steeds gereeld by spesiale geleenthede op.
Hy sê: “Each art piece is a piece of us. I am a piece of all. All is in me.”
Die ander uitstallers is Marilise Lombard, Isabel du Toit, Elzett Kotzé, Julie Wilson, Rivkah van der Merwe, Janet Muller en die pottebakker Robyn Learmonth.
• Die Opwip-feesgalery duur nog tot 22 Desember by die Geel Mossie, Langstraat 23 (op die hoek van die Ou Tronk). Van tienuur soggens tot vieruur smiddae.
• Loer gerus na die foto-galery hierby en word begeester.
• Suid-Kaap Forum loer die res van die week in om die kunstenaars te ontmoet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’