RIVERSDAL NUUS - Riversdal-polisie het in samewerking met die ACVV Riversdal, die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) en Kindersorg op Vrydag 10 Julie ’n vakansieprogram by die Riverville-stadion aangebied om skoliere bewus te maak van die gevare van dwelmmisbruik.
Die program het ten doel gehad om jongmense tydens die skoolvakansie positief besig te hou, terwyl hulle ook toegerus is met kennis oor die gevare en gevolge van dwelmgebruik.
Sers. Christiaan Jansen en ao. Hans Busch het die skoliere toegespreek en die ernstige impak van dwelms op individue, gesinne en die gemeenskap beklemtoon.
Busch het genoem dat die dwelmprobleem in Riversdal dringende aandag verg.
“As daar nie nou iets aan hierdie probleem gedoen word nie, is dit ’n klap in die gesig vir dit waarvoor die polisie en die gemeenskap staan,” het hy gesê.
Hy het verder vertel dat dit vir hom skokkend was toe drie van die skoliere wat die program bygewoon het, tussen die ouderdomme van 13 en 16 jaar, openlik erken het dat hulle dagga rook.
“Daar gaan met erns na die probleem gekyk moet word.
Ons kinders is die toekomstige leiers en ons gaan hulle moet beskerm,” het Busch gesê.
Die organiseerders het die belangrikheid van samewerking tussen die polisie, ouers, skole en gemeenskapsorganisasies beklemtoon om te verseker dat kinders die nodige ondersteuning ontvang om dwelmvrye lewens te lei.
Die vakansieprogram vorm deel van Riversdal-polisie se voortgesette pogings om dwelmmisbruik onder die jeug hok te slaan deur middel van bewusmakingsveldtogte en gemeenskapsvennootskappe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’