STILBAAI NUUS - Die inwoners van Melkhoutfontein se jarelange droom van 'n eie supermark het Donderdagoggend, 2 April, 'n werklikheid geword toe Usave sy deure by Heuningkloof oopgemaak het.
Met die onlangse skerp styging in brandstofpryse kon die opening nie op 'n beter tyd gekom het nie. In die verlede moes Melkhoutfonteiners Stilbaai toe ry vir hul inkopies, terwyl diegene sonder vervoer dikwels duur taxi's moes gebruik.
Die pragtige nuwe winkel, met sy breë gange en rakke vol bekostigbare produkte, is 'n groot aanwins - nie net vir Melkhoutfontein nie, maar vir die hele omgewing.
Elvezo Josephs, die winkelbestuurder, en sy vriendelike personeel staan gereed om klante met raad en daad by te staan. Hy nooi die gemeenskap uit om die winkel te besoek, met die versekering dat hulle met 'n vol trollie en 'n breë glimlag daar sal uitstap.
Die winkel is gerieflik geleë langs die Melkhoutfonteinpad by die ingang na Heuningkloof, met voldoende parkeerplek beskikbaar.
Usave se openingstye is soos volg: Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 18:00, Saterdae van 08:00 tot 17:00, Sondae van 08:00 tot 13:00 en op openbare vakansiedae van 08:00 tot 15:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’