HEIDELBERG NUUS - Dié dorp is Maandag in rou gedompel nadat twee groot seders binne 'n paar minute van mekaar die lewe vaarwel geroep het.
Die eerste was Simon Odendaal (74), bekende inwoner en boer, asook voormalige Hessequa-wyksraadslid, wat Maandag 11 Augustus, ongeveer 13:00 na 'n kort siekbed in die hospitaal op Swellendam gesterf het.
Hy het vanaf 2016 tot 2021 as wyksraadslid vir wyk 9 gedien.
Hy was bemind in die dorp en het oral gehelp waar hy kon. Odendaal laat drie susters agter.
Begrafnisreëlings was nie bekend ten tyde van plasing van die berig nie.
Gert Hartnick
Die tweede bekende inwoner wat later dieselfde middag gesterf het, was Gert Hartnick (66) wat ook na 'n kort siekbed aan huis in Burnsstraat gesterf het.
Hartnick, oftewel Foi, soos hy alombekend was, het 31 jaar by die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling gewerk.
Hy was ook 'n geharde rugbyspeler vir die destydse Young Stars-rugbyklub, wat vrees by sy opponente ingeboesem het.
Hy laat twee dogters, een seun, vyf kleinkinders asook twee broers en een suster agter.
Wyle Gert "Foi" Hartnick
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’