STILBAAI NUUS - Dit was 'n feestelike geleentheid toe vyf tuisversorgers op Vrydag 5 September, hul sertifikate van suster Rita Botha, eienaar van CCC Carers, ontvang het.
Die funksie is in Die Waenhuis by Jagersbosch gehou, waar Sakkie Marais en Johann Strauss die braaivleisvure hoog laat brand het terwyl die sertifikate oorhandig is.
Baie mense in Stilbaai en omgewing verkies om tuis versorg te word wanneer hulle nie meer instaat is om hulself te versorg nie.
Die vraag na plek in versorgingsoorde is ook groter as die aanbod, en om hierdie redes is dit noodsaaklik om voortdurend versorgers op te lei.
Om in hierdie behoefte te voorsien, het suster Rita Botha die inisiatief geneem en 'n kursus vir tuisversorgers aangebied.
Die studente het oor drie maande deeltyds gestudeer om hul Home Based Care-kwalifikasie te verwerf. Dit was harde werk, aangesien hulle terselfdertyd hul huishoudings bedryf en voltyds gewerk het.
In haar toespraak het suster Botha die studente bedank vir hul toewyding, aangesien nie een hulle gesinne of beroepe afgeskeep het tydens die kursus nie.
Al vyf studente het met onderskeiding geslaag en is alreeds by pasiënte geplaas.
Suster Botha glo in die voortdurende groei en ontwikkeling van mense en bied daarom aan die einde van September weer 'n kursus aan.
Kontak haar by 082 784 6190 vir enige navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’