Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - Leerders en onderwysers van Voorwaarts Primêre skool het Vrydag 4 Oktober aan 'n hartroerende troosdiens vir twee leerders deelgeneem.
Monté Elbrink (8), 'n gr. 3-leerder, en Kenthlan Albertyn (10), 'n gr. 4-leerder is 'n week uit mekaar in motorongelukke dood.
Kenthlan is Saterdag 21 September noodlottig beseer toe hy op sy fiets deur 'n voertuig op die Kruisrivierpad buite Riversdal raakgery is.
Monté se familie was nie daar nie. Sy pa Gilbert, saam met wie hy op Sondag 29 September in die voertuig was waarin sy niggie Lee-Jane November (18) ook gesterf het, het op die vooraand van die roudiens in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Sy ma Maryke is op 14 Maart vanjaar oorlede; sy ouma, na wat verneem word, het verlede jaar gesterf. Sy suster Gillian (11), wat ook in die voertuig was, is wees gelaat.
Al die leerders het om 12:00 in die VGK-kerksaal langs die skool bymekaargekom. Die gr. 6- en gr. 7-leerders het 'n lang erewag van die hek tot by die ingang na die saal gevorm vir Irene Albertyn, Kenthlan se ma en familielede. Hulle het in die middel van die saal hul plekke ingeneem. Kenthlan se beste maatjie het ontroosbaar gehuil en na sy maat geroep.
Dr. Esau Willemse van die Volkskerk in George het die troosboodskap uit 2 Samuel 12:22-23 gebring. Die teks verwys na koning Dawid se hartseer na die dood van sy kind by die vrou van Uria, die Hetiet. 'Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween... Maar nou is hy dood... Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.'
Kyk 'n video hieronder:
"Ons lewe in 'n gebroke wêreld en 'n stukkende samelewing. Maar vertrou op die Here om vir julle, soos vir koning Dawid, troos te bring."
'n Geestelike dansgroepie en die skoolkoor het op 'n besondere manier hulde aan hul ontslape maats gebring. Teen daardie tyd was die helfte van die kinders in trane. Onderwysers, self met trane in hul oë, het snikkende leerders vasgehou en stukkies toiletpapier uitgedeel om die trane mee af te vee. Toe die foto's van die twee leerders op die skerm gegooi word, het die geween 'n crescendo bereik.
Gilbert en Monté Elbrink word Saterdag 12 Oktober om 09:00 vanuit die huis in Theunissenstraat 11 en om 10:00 vanuit die Lutherse Kerk begrawe.
Irene Albertyn, Kenthlan se ma. Foto’s: Tisha Steyn
Monté Elbrink (8).
Gilbert Elbrink .
Lees verwante artikels:
- Hartroerende troosdiens vir leerders gehou
- Botsing knip drie jong lewens kort
- N2 closed between Albertinia and Riversdale
- Ongeluk op N2 Albertinia
- Opvolg: Begrafnisreëlings vir jong ongelukslagoffers bekend
- Fietsongeluk ruk gemeenskap
- Kind noodlottig in ongeluk beseer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'