Update
ALBERTINIA NUUS - Die gru-ongeluk Saterdagaand, 9 Julie, net buite Albertinia het vier lewens kortgeknip.
Dié trompop botsing tussen 'n vragmotor en 'n bakkie het omstreeks 21:50 op die N2 op pad na Mosselbaai plaasgevind.
Nooddienswerkers, met die hulp van die plaaslike polisie en verkeersbeamptes, het deur die nag gespook om die liggame uit die wrak van die bakkie te verwyder en die ongelukstoneel op te ruim. Die pad was vir die grootste deel van Sondag gesluit terwyl daar probeer is om die vragmotor van die toneel te verwyder.
Verkeer is met 'n ompad deur Albertinia herlei.
Sers. Ciska Badenhorst, plaaslike polisiewoordvoerder, het aan Suid-Kaap Forum gesê hulle het aanvanklik gedink net drie mense het in die botsing omgekom, maar later is vasgestel dat vier mense, drie mans en 'n vrou, dood is.
Sy sê die oorledenes kon nog nie geïdentifiseer word nie omdat hulle nie identifikasiedokumente by hulle gehad het nie.
"Ons het nie die vaagste benul van waar die oorledenes is nie en gevolglik kon ons nog nie met hul naasbestaandes kontak gemaak het nie."
Die polisie se enigste leidrade in dié stadium is die nommerplaat van die bakkie en ook die logo van die besigheid wat op die regterkantse deur is. Dis 'n Kaapse registrasienommer.
Badenhorst sê hulle vermoed die bestuurder van die bakkie was op pad na 'n onbekende bestemming vir sy besigheid en dat die ander insittendes slegs passasiers was.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'