RIVERSDAL NUUS - Ná die sukses van verlede jaar se eerste Wallace Anderson-Pretdraf, mik die organiseerders vanjaar hoog en hoop hulle om sowat 500 deelnemers op Saterdag 12 September by die Riversdal-skouterrein te verwelkom.
Verlede jaar het ongeveer 150 mense aan die geleentheid deelgeneem.
Die pretloop word aangebied ten bate van Huis Wallace Anderson, met alle fondse wat aangewend sal word vir opknappingswerk by die tehuis, asook om die inwoners se daaglikse versorging en lewensgehalte te ondersteun.
Deelnemers kan kies tussen 5 km, 10 km en 21 km-roetes.
Die 21 km-halfmarathon spring om 08:00 weg, gevolg deur die 10 km om 08:30 en die 5 km om 09:00.
Inskrywings open reeds om 07:00 op die dag van die byeenkoms.

Die inskrywingsfooie is R20 vir die 5 km (kinders onder ses jaar betaal R10), R80 vir die 10 km en R180 vir die 21 km. Kontant- en kaartbetalings sal aanvaar word.
Daar is kontantpryse vir die eerste drie plekke in die mans- en vroue-afdelings van die 10 km en 21 km.
Vir die 10 km ontvang die wenners in beide die mans- en vroueafdelings R300, die tweede plek R200 en die derde plek R100.
In die 21 km-halfmarathon wen die eerste plek R600, die tweede plek R400 en die derde plek R200 in beide die mans- en vroueafdelings.
Die organiseerders nooi die gemeenskap uit om deel te neem en só ’n waardevolle bydrae te lewer tot die versorging van die inwoners van Huis Wallace Anderson.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’