Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Plaaslike dwelmhandelaar is 10 jaar gevangestraf vir dwelmhandel opgelê.
André Tieman is Woensdag 11 Desember vir handeldryf in tik tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy moet agt jaar daarvan uitdien. Hy is op 8 Maart 2018 in hegtenis geneem, maar het sy borgtogaansoek laat vaar. Hy was sowat twee jaar lank verhoorafwagtend in die George-gevangenis.
Tieman het tereggestaan op drie aanklagte van handeldryf in tik wat op 29 en 30 Julie en 12 Augustus 2017 plaasgevind het. Die saak het van 2 tot 11 Desember in die plaaslike landdroshof voorgekom.
Sy broer John (Tokka) Pietersen is saam met hom by laasgenoemde se huis in Whitestraat in hegtenis geneem. 'n Gefokusde ondersoek, wat deur die direkteur van openbare vervolging (DOV) gemagtig is, het gelei tot die arrestasie van die broers en ander rolspelers wat tik by 'n polisie-agent gekoop het.
Die motivering wat aan die DOV voorgelê is was dat dié woning oor 'n tydperk in 'n dwelmnes ontaard het. "Ouers het gekla dat die dwelms wat hier verskaf is, daartoe gelei het dat hul kinders verslaaf geraak het," het sers. JM Spangenberg van die K9-eenheid op Mosselbaai en die ondersoekbeampte gesê.
"Vroue het gekla hul mans gee hul weekloon hier uit. Die dwelmsmouse het so ver gegaan om dwelms op krediet te verskaf. Dit het gelei tot huisbraak en diefstal omdat gesteelde goedere as kollateraal vir dwelms verskaf is."
Adv. Herman Steyn, wat vir die staat aangekla het, het aangevoer, "'n Dwelmsmous is 'n dier wat uitgesit moet word en die hof moet die gemeenskap van hulle verlos," het Spangenberg gesê.
Die onafhanklike landdros sonder voorafkennis van dié dwelmhandelaars, het in sy uitspraak gesê Tieman het deurgaans geen berou vir sy dade getoon nie. Die hof het sy verweer dat die agente by drie geleenthede 'sout' aan hom verkoop het, verwerp.
Tokka Pietersen is die nag van Sondag 8 en Maandag 9 Desember op die N2 by Caledon in 'n fratsongeluk oorlede. Hy is destyds borgtog van R10 000 toegestaan met die voorwaarde dat hy nie in sy tuisdorp mag kom nie tensy hy hier in die hof verskyn. Hy was steeds verhoorafwagtend.
Local drug dealer André Tieman was sentenced to 10 years in jail for dealing in tik on 11 December. He must serve eight years as he has already spent two years in jail awaiting trail.
Lees 'n vorige artikel: Tiksmous kry 10 jaar
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Tuinroete nuus'