STILBAAI NUUS - Ongeveer tien infor-mele wonings, wat 28 inwoners dakloos gelaat het, is Saterdagaand, 11 Julie, in 'n verwoestende brand by Harmony Park in Melkhoutfontein vernietig.
Danksy die vinnige optrede van Hessequa-munisipaliteit se brand-, reddings- en rampbestuursdienste is alle inwoners veilig ontruim en geen beserings aangemeld nie.
Volgens Didi Budricks, kommunikasiebeampte van Hessequa-munisipaliteit, het die noodoproep omstreeks 21:30 ingekom oor informele strukture wat aan die brand was.
Brandbestrydingspanne was binne enkele minute op die toneel en het reeds om 21:32 gearriveer.
Met hul aankoms het hulle vasgestel dat verskeie informele wonings reeds in ligte laaie was.
Die digte plasing van die strukture het 'n groot gevaar ingehou dat die brand na aangrensende wonings kon versprei.
Brandbestryders het onmiddellik met 'n direkte blusmetode begin om die vlamme te beperk, verdere verspreiding te voorkom en die brand so gou moontlik onder beheer te bring.
Nadat die brand onder beheer gebring is, het spanne voortgegaan om smeulende materiaal af te koel. Die toneel is uiteindelik om 01:27 op Sondagoggend, 12 Julie, veilig verklaar.
Na afloop van die voorval is vasgestel dat sowat tien informele wonings, tesame met die inwoners se persoonlike besittings, waaronder klere, meubels, huishoudelike toerusting en elektriese toestelle, totaal vernietig is.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
Hessequa-munisipaliteit se brand-, reddings- en rampbestuur het dieselfde aand tydelike skuiling, matrasse en komberse by die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal vir die 28 geaffekteerde inwoners gereël.
Sondagoggend is warm etes en koffie aan die gesinne voorsien om hulle in hierdie moeilike tyd by te staan.
Budricks het namens die munisipaliteit haar dank uitgespreek teenoor die gemeenskappe van Melkhout-fontein en Stilbaai wat ruimhartig skenkings van voedsel, klere, komberse en ander noodsaaklike benodigdhede gemaak het.
Die munisipaliteit bedank ook al die rolspelers en vrywilligers wat tydens en ná die voorval ondersteuning gebied het.
Volgens Budricks is die wyse waarop die gemeenskap saamgestaan het, 'n bewys van die sterk gees van samewerking wat in Hessequa heers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’