RIVERSDAL NUUS - Attie Steyn (57), lid van die Handelshuis-span op Riversdal vir bykans 40 jaar is skielik op 24 November oorlede. Hy sal veral onthou word vir sy vriendelikheid, hardwerkendheid en positiewe ingesteldheid.
Attie is op Klein Kragga in Heidelberg op 4 Julie 1964 gebore as die tweede oudste van vyf kinders, waar hy dan ook sy vroeë kinderjare spandeer, waarna sy ouers na Vergenoegd in die Riversdal-distrik verhuis het.
Sy skoolloopbaan het by Boontjieskloof Primêre Skool begin en toe hy graad 6 slaag, is sy pa by die Hoër Landbouskool Oakdale in diens geneem. Die gesin verhuis toe na die skool se buiteplaas.
Hy het vroeg begin werk. Hy het van werk gehou en het as jong seun in tuine in Riversdal gewerk. Hy het onder andere in mnr Esterhuizen se tuin gewerk, op daardie stadium die eienaar van die Handelshuis.
Dis hier waar Esterhuizen sy werketiek raakgesien het en in 1979 het hy vir Attie aangestel om by die matte-afdeling af te los. Daarna het hy by die kruideniersafdeling gewerk en in die middel tagtigerjare is Attie na die mansafdeling geskuif, waar hy ook later as vloerbestuurder aangestel is.
Attie sou op 1 Desember by die Hoër Landbouskool Oakdale inval om hulle skoolklere-afdeling te hanteer.
Attie en sy vrou, Hester was vir 36 jaar en vier maande getroud. Uit die huwelik is drie seuns gebore, naamlik Tasswell, Morné en Adrian. Hy was 'n gesinsman en was ook baie geliefd in die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'