Update
HESSEQUA NUUS - Hessequa-burgermeester Grant Riddles het Donderdag, 2 September die distrik se suksesbundel bekendgestel.
Die doel van die bundel is om inwoners en besoekers 'n oorsig te gee van die munisipaliteit se hoogtepunte van 2016 tot 2021.
Riddles het elke department bedank vir hulle bydrae.
"As ek terugkyk na wat ons vermag het, was dit 'n goeie termyn vir die munisipaliteit. Ons het sewe skoon oudits gekry en is ook vereer as derde beste munisipaliteit in die land," het Riddles gesê.
Hy het gesê die munisipaliteit het onder andere sedert 2016 R30 miljoen bestee om paaie op te knap, die riool- en waternetwerk is opgradeer, twee sportstadiums is gebou, e-sentrums is oopgemaak en 'n jeugkafee is in wording.
Munisipale bestuurder Johan Jacobs, wat einde 2021 aftree, is bedank en geloof vir sy 25 jaar diens by die plaaslike owerheid. "Hy is een van die beste munisipale bestuurders in die land en ons wens hom sterkte vir die pad vorentoe," het Riddles gesê.
Hessequa Munisipale Bestuurder Johan Jacobs tree einde 2021 uit.
Speaker Andrew Stroebel het gesê die bundel is elke sent werd want dit verduidelik hoe belastingbetalers se geld spandeer is. "Dis belangrik om te weet dat die munisipaliteit suksesvol is. Raadslid is daar om te dien en moet nie net op kantoor sit nie, maar uitgaan na die gemeenskap en dien."
Jacobs het gesê dis moeilik vir die publiek om die jaarverslae van A-Z te verstaan. "Daarom poog ons om deur middel van die bundel die jaarverslae aan die publiek te verduidelik. Dis 'n kort, dog omvattende produk wat verstaanbaar is. Ek hoop dit wek die publiek se aptyt om meer jaarverslae te lees. Sodoende sal die munisipaliteit nuwe insette van die publiek ontvang tot voordeel van almal," het Jacobs gesê.
Die bundel is beskikbaar by alle munisipale kantore in die Hessequa-distrik en ook aanlyn. 'n Totaal van 10 000 bundels is gedruk - 7 000 in Afrikaans en 3 000 in Engels.
Vorige artikel: Hessequa 2016-2021 suksesbundel bekendgestel
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'