HESSEQUA NUUS - Die alombekende Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) hou tans oudisies vir jong sangers tussen die ouderdomme van 9 tot 14 ten einde plaaslike takke van die koor in Riversdal en Stilbaai te vestig.
Die SKKK is een van Suid-Afrika se top amateur-streekskinderkore en is 214de op die internasionale koorfederasie (IFCM) se beste 1 000 koreranglys, wat kinderkore, jeugkore, volwasse, asook universiteitskore dwarsoor die wêreld insluit.
Die besluit om na die platteland van die Suid-Kaap uit te reik, is al lank 'n prioriteit van die dirigent, Jan-Erik Swart.
"Die Covid-19-pandemie het kultuuraktiwiteite in ons streek in duie laat stort. Skoolkore mag nie oefen nie. Streekskore mag wel oefen, maar maak op skole as voedingsbronne staat om talentvolle sangers te identifiseer, werf en prestige-vlak optreegeleenthede te bied."
Omdat die SKKK nie openbare konserte mag aanbied nie, fokus hulle daarop om musiekvideos van hul repertorium in die natuurskoon van die Tuinroete op te neem, wat daarna op sosiale media en TV vrygestel word. Hulle het onlangs 'n uitdaging wat die Drakensberg Seunskoor aan hulle gestuur het om die lied Shosholoza te sing, aanvaar en verlede Saterdag verfilm. Dié produksie is die eerste van verskeie wat die koor met Hartland TV-produksies in die volgende paar maande beoog.
Die uitdaging om kinders deur sang emosioneel te versterk en gelukkig te hou is vir Swart belangrik.
"Die invloed op ons kinders weens die gevolge van inperking is merkbaar en kommerwekkend. Koorsang is een van die mees effektiewe metodes om hulle weer na iets spesiaal uit te sien."
Nuwe lede sal weekliks met 'n plaaslike koorkundige onder streng Covid-19-veiligheidsmaatreëls saamwerk en deur middel van die internet 'n gedeelte van die George-repetisie virtueel bywoon om sodoende elke lied wat verfilm gaan word aan te leer. Wanneer lede hul musiek ken sal alle koorlede, van sover as Ladismith tot Plettenbergbaai by 'n sentrale punt byeenkom om die klankopnames en videos op te neem.
Ouers van jong sangers wat belangstel om deel van hierdie projek te word kan Swart (084 645 9320) kontak om 'n oudisie-afspraak in Stilbaai of Riversdal te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'