HESSQUA NUUS - Nog 'n jaar het verbygesnel en vakansiegangers stroom reeds na hul onderskeie bestemmings; binnelanders verkies gewoonlik kusdorpe en laasgenoemde se inwoners gaan meestal binneland toe of na 'n ander kusdorp.
Hier in die Hessequa-streek is dit nie 'n uitsondering nie en veral die kusdorpe is besig om sy groeiende aantal besoekers te verwelkom. Hoewel al ons dorpe regdeur die jaar deur die munisipaliteit - en inwoners - netjies en in stand gehou word, word ekstra sorg en moeite aan die dag gelê om dit nog meer aantreklik vir vakansiegangers te maak.
Die Kersliggies in al die dorpe is reeds op Vrydag 6 Desember aangeskakel en sal tot die feestelikheid van die seisoen bydra.
Namens myself en al die personeel van Suid-Kaap Forum heet ek ons besoekers welkom en wens u almal 'n genotvolle en veilige vakansie toe. Ons paaie is baie besiger as gewoonlik, daarom is verdraagsaamheid en geduld die antwoord.
Kom eerder laat as nooit by jou bestemming aan - jy is per slot van sake met vakansie!
Geniet ons pragtige blouvlagstrande, swem slegs waar lewensredders diens doen en keer veilig terug huis toe.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'