Update
STILBAAI NUUS - Dit beter gaan met Suid-Afrikaners as met Suid-Afrika. Só het prof. Jannie Rossouw, bekende politieke ekonoom en besoekende professor by Wits se Besigheidskool, Donderdag 30 Mei gesê toe hy as gasspreker Stilbaai-sakekamer se jaarvergadering toegespreek het.
Hy het afgeskop deur te sê dat sy aanbieding nie vir sensitiewe kykers is nie. Dit is moeilike tye om in Suid-Afrika 'n ekonoom te wees, maar dit gaan beter met hom as met Suid-Afrika.
Daar is tog nog heelwat suksesse in Suid-Afrika en hy noem die volgende voorbeelde:
- Binne die sfeer van die regering: Regsprekende gesag, nasionale tesourie, ouditeur-generaal, SA Inkomstediens en die Reserwebank.
- Besigheidsomgewing: Suid-Afrikaanse sake-ondernemings (groot en klein).
- Finansiële stelsel: Banke, effektebeurse, versekeraaars en fondsbestuurders.
- Opvoedkunde: Sekere Suid-Afrikaanse universiteite en openbare en privaat skole.
- Kultuuromgewing: Kultuurorganisasies en kerkgenootskappe.
- Mediavryheid en vryheid van spraak.
- Geloofsvryheid.
Die huidige ekonomiese krisis lig hy uit in sewe voorbeelde:
- Die samelewing teen die regering, regering teen die samelewing. In jou gedagtes sien jy die samelewing wat visvang en die regering kom vat maar net weer jou vis.
- Die regering teen die belastingbetaler. As daar iewers 'n tekort is, is die belastingbetaler die maklikste prooi om dit op te maak.
- Die bevolking teen die belasting-betaler. Die belastinglas rus op 'n klein groepie belastingbetalers.
- Is dit die beste wat die regering kan doen? In 'n tyd van krisis leef die regerende elite in uiterste weelde.
- Is die regering vriend of vyand? Die voorbeeld is die woud wat besig is om al kleiner te word, maar die bome stem nog steeds vir die byl want hy is slim genoeg om hulle te oorreed dat omdat sy steel van hout is, is hy deel van hulle.
- Elektrisiteit: Ons grootste krisis. Die mense wat dertig jaar gevat het om die kragnetwerk tot 'n ramptoestand te kry verklaar 'n ramptoestand om die ramptoestand te herstel. Traagheid om alternatiewe bronne te ontgin.
- Wat vir die President ontsettend moeilik moes wees was om met sy parlementsrede suksesse te soek tussen beurtkrag, werkskepping, polisiëring, korrupsie, ekonomiese krisis, sabotasie, onderwys, spoornetwerk, infrastruktuur, water, riolering en nog baie meer mislukkings.
As die samelewing dus wag vir die regering gaan dit te laat wees.
As die samelewing as individue optree gaan dit te min wees, maar as die samelewing as gemeenskappe optree gaan dit moontlik genoeg wees.
Volgens prof. Rossouw is die kerkgenoot-skappe en besighede heeltemal te stil en die samelewing moet te alle koste mediavryheid en vryheid van spraak beskerm. Dit is die hoeksteen van oorlewing in Suid-Afrika.
Sonder mediavryheid en vryheid van spraak was daar geen inligting oor staatskaping en korrupsie nie. Daar sou ook geen Zondo-kommissie wees nie.
Die parlement het sy oorsigrol verloor en is deur die ANC verander van 'n waghond na 'n skoothond.
Sy gevolgtrekking is dat Suid-Afrika beskik oor 'n disfunksionele regering en die gemeenskap moet dienslewering verseker. Mediavryheid en vryheid van spraak moet beskerm word, al hou jy nie van die ander party se standpunt nie.
Daar is tans enkele hoekstene wat die Suid-Afrikaanse gemeenskap laat funksioneer en dit is:
- 'n Samelewing wat omgee, wat die geloofsgemeenskap insluit.
- Mediavryheid en vryheid van spraak.
Suksesvolle instellings wat funksioneer ten spyte van die regering, nie as gevolg van die regering nie.
Ons leer hoe om op alle vlakke sonder die regering te funksioneer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’