Sers Johannes Busch, in samewerking met Samantha (Pienaar) Taute, het 'n kort toneelstuk opgevoer met die tema 'Moenie dat jou omstandighede jou toekomsplanne verydel nie'.
Taute is 'n jong, opkomende aktrise en het al verskeie toekennings met haar toneelspel verower. Sy het selfs 'n optrede in 'n episode van die bekende sepie 7de Laan gewen, waarin sy verlede week op die kassie te siene was. Busch het vooraf uit 1 Konings 19 uit die Bybel aan die leerders voorgelees en 'n gebed gedoen waarin hy hulle en die skool aan die Here opgedra het.
Die toneelstuk het gehandel oor die ware lewensverhaal van Charles Laverlot, wat ten spyte van sy doofheid matriek (st 10) in 1985 afgelê het en reeds die afgelope 21 jaar by Riversdal Saagmeule werksaam is. "Moenie dat jou omstandighede soos dronk ouers of die gebrek aan geld jou daarvan weerhou om jou lewensideaal te verwesenlik nie. Dit is hulle wat dronk of deur dwelms benewel is, nie jy nie. Dis wat jy daarvan maak wat saakmaak," het hy beklemtoon.
Taute het daarby aangesluit deur van haar eie, minder gunstige omstandighede te vertel. "Ek het ook nie onder die top-leerders getel met A- of B-simbole nie, maar ek het geweet wat ek uit die lewe wou hê en het daarvoor gewerk. Dit maak nie saak of jou klere by 'n Chinese winkel of by 'n winkel wat net oor 'brand names' beskik gekoop is nie; dit maak ook nie saak of jou ouers 'n luuksemotor of 'n ou kar het nie, dis die voertuig wat klaar betaal is wat saakmaak."
Die leerders was duidelik meegevoer deur die ongeveer kwartierlange opvoering en Busch, Taute en Theodore Charles, graad 10A-leerder wat as die dowe seun gespeel het, is kort-kort toegejuig.
Samantha Taute en Johannes Busch in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'