HESSEQUA NUUS - Die Wes-Kaap gaan tans deur 'n erge droogte en Hessequa is nie gespaar nie. Lae reënval oor die afgelope maande het daartoe gelei dat watervlakke in damme en boorgate skerp gedaal het, wat die munisipaliteit genoop het om strenger waterbeperkings in te stel.
Inwoners en besighede word versoek om water spaarsamig te gebruik en onnodige verbruik, soos die natmaak van tuine en was van voertuie met drinkwater, te vermy.
Met die verhoogde vraag na water as gevolg van die warmer somermaande, het die munisipaliteit op 23 Januarie besluit dat strenger waterbeperkings met onmiddellike effek in die Hessequa-streek ingestel sal word.
Volledige besonderhede is op Hessequa-munisipaliteit se webwerf beskikbaar, maar enkele belangrike punte word hier uitgelig.
Vlak 4 waterbeperkings vir Riversdal, Garcia, Vermaaklikheid, Heidelberg, Slangrivier, Witsand en Albertinia - water mag slegs vir menslike gebruik aangewend word en die natmaak van tuine word verbied. Was van voertuie, karavane en bote word verbied.
Vlak 2 waterbeperkings vir Gouritsmond, Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein - tuine mag net twee keer per week tussen 18:00 en 19:00 natgemaak word, waarvan die ewe straatnommers op Maandae en Donderdae en die onewe straatnommers op Dinsdae en Vrydae natgemaak mag word. Was van voertuie, karavane en bote mag slegs deur middel van 'n emmer gedoen word.
Die situasie in die verskeie dorpe sal gemonitor word en strenger beperkings sal ingestel word indien die toestand van waterbronne versleg.
Rapporteer oortredings van die waterbeperkings by jou naaste munisipale kantoor of by 028 713 8000, 028 713 2222 of 084 014 1828.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’