HESSEQUA NUUS - Solidariteit Helpende Hand sorg tans deur voedingsprojekte dat meer as 8 000 kleuters elke dag 'n gesonde bord kos kry.
Volgens Marlise Labuschagne (assistent-streekorganiseerder Wes-Kaap) word die behoefte elke dag groter: "Die organisasie het al aansoeke gekry om nagenoeg 12 000 kinders daagliks te voed."
Die voedselverskaffing is tot dusver uit hul Kosblikkie-projek gefinansier. Kommer oor die volhoubaarheid hiervan het Helpende Hand egter genoop om die kommersiële mark te betree. Só is die StopHonger-energiestafie gebore.
Dis nie net die perfekte peuselhappie vir kinders se kosblikke nie, maar die aankoop van net een stafie help om een honger kind te voed, sê Labuschagne.
Die stafie is tydens Afrikaans is Groot in November 2019 bekendgestel en geniet die ondersteuning van bekendes soos die akteur Armand Aucamp en die sangers Steve Hofmeyr en Jay.
Drie geure is beskikbaar - piesang en karamel, sonneblom en pampoensaad asook veselperske, pynappel en klapper. Die stafies kos R20 elk en is aanlyn by www.stophonger.co.za beskikbaar.
Vir meer inligting kan die Wes-Kaap se StopHonger kontakpersoon, Alisha de Lange, by 082 923 1438 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'